Opposisiepartye verwelkom munisipaliteit se optrede teen onwettige stakers
In ‘n verslag wat in ‘n spesiale raadsvergadering op Dinsdag, 18 Oktober, gedien het word daar aangedui dat kennisgewingsbriewe uitgereik aan die betrokke persone waarna daar met dissplinêre stappe teen hulle begin sal word.

Die JB Marks Munisipaliteit tree sterk op teen die 118 werknemers wat vanaf 19-22 September aan ‘n onwettige staking deelgeneem het.
In ‘n verslag wat in ‘n spesiale raadsvergadering op Dinsdag, 18 Oktober, gedien het word daar aangedui dat kennisgewingsbriewe aan die betrokke persone uitgereik is, waarna daar met dissplinêre stappe teen hulle begin sal word.
Dié briewe is glo reeds aan 105 werknemers gestuur.
Volgens die DA en Vryheidsfront Plus se koukusleiers in die JB Marks Munisipaliteit is dit ‘n welkome stap om te verseker dat onwettige stakings nie geduld sal word nie.
“Die beginsel van “geen werk – geen betaling” gaan geïmplementeer word teen werknemers wat deelgeneem het aan die onwettige staking asook dié wat tans weier om hul werk te verrig.
“Daar sal intussen van tydelike diensverskaffers gebruik gemaak word om toe te sien dat dienste steeds gelewer word. Die VF Plus sal die proses deeglik monitor om seker te maak dit word in die belang van dienslewering so gou moontlik afgehandel.” – VF Plus koukusleier in die JB Marks munisipaliteit, Marlene Steyn du Toit.
- Die raad het ook die VF Plus se voorstel aanvaar dat daar ten minste maandeliks verslag gelewer moet word oor die vordering met die dissiplinêre prosesse en dienslewering.
- Die DA het versoek dat ‘n meer gedetailleerde verslag by die volgende Spesiale Raadsvergadering wat vir 25 Oktober 2022 geskeduleer is, ter tafel gelê word.
Jóhni Steenkamp, DA koukusleier in die JB Marks Munisipaliteit staaf dat daar meer besonderhede verskaf moet word rakende die gebruik van tydelike diensverskaffers.
“Ons het ‘n gedetailleerde lys versoek van die diensverskaffers wat die munisipaliteit beoog om te gebruik. Dit moet vasgestel word sodat die regte prosedures gevolg word en die Raad weet presies wat die kostes sal wees sodat die belastingbetaler se geld doeltreffend en effektief aangewend kan word.” – DA JB Marks koulusleier, Jóhni Steenkamp.
- Die DA versoek ook dat daar ‘n uiteensetting van geïmpliseerde werknemers per departement moet wees sowel as verdere besonderhede rondom maatreëls wat geïmplementeer moet word om te verseker dat munisipale werknemers kan voortgaan om te werk in ‘n omgewing wat vry van vrees, intimidasie of besering is.
“Dit is ook vir ons baie belangrik dat daar ‘n tydlyn saamgestel word om te bepaal hoe lank die prosdure teen die onwettige stakers sal neem,” sê Steenkamp.
“Die DA sal die dissiplinêre proses fyn dophou en druk toepas om te verseker dat die inwoners van JB Marks nie weer deur ontevrede en verpolitiseerde munisipale amptenare aangehou word nie. Ons sal voortgaan om die verbetering van dienslewering te monitor en sal ingryp om te verseker dat gebeurlikheidsplanne in plek is om die impak van swak dienslewering te beperk,” noem Steenkamp.




