Mooirivier bereik vanmiddag piek: Potch uit gevaarsone vir vloed
“Die piek van die vloed word verwag laat Maandagmiddag vanaf ongeveer 17:00-22:00 in Potchefstroom en lyk of dit 45-50 kubieke meter of minder sal wees."
Daar word nie grootskaalse vloede vir Potchefstroom vanmiddag (Maandag, 14 November) verwag na die naweek se aanhoudende reën nie. Daar was ‘n kans dat as die Boskop en Potchefstroomdamme oor kapasiteit loop dit ‘n vloed in Potchefstroom kon veroorsaak.
‘n Taakspan wat onder andere uit Prof. Kobus van der Walt (omgewingswetenskappe en hidrologie), Dr Rainier Dennis (hidrologie) en Prof. Dewald van Niekerk (Rampbestuur) bestaan, is gisteraand (Sondag, 13 November) ingespan om die impak van ‘n moontlike vloed te bepaal.

Voor: Johan van Rensburg (ALS), Jan de Wet (Groenwilgers voorsitter) en Rdl Santi Britz. Foto: Bertus le Roux.
Volgens Prof. Van der Walt, het die Departement van Waterwese uitstekend gereageer deur die sluise vir die afgelope 24 uur oop te maak. Sodoende het die watervlakke met 250mm gedaal wat ‘n groot rol speel om die kans vir vloeding te beperk.
“Die piek van die vloed word verwag laat Maandagmiddag vanaf ongeveer 17:00-22:00 in Potchefstroom en lyk of dit tussen 45-50 kubieke metersal wees,” noem Prof. Van der Walt.
“Daar is nie ‘n wesenlike gevaar vir Groen Wilgers Aftreeoord om te oorstroom nie. Mense moet asseblief nie skrik as die water vining styg nie,” voer hy verder aan.
‘n Rivier (van die een kant na die ander kant) is V-vormig en hoe verder die water opgaan, hoe groter oppervlak moet toegemaak word.

“Die berekeninge en metings wys dat daar eers ontruiming sal plaasvind as die vloed 80 kubieke meter ver strek. Potchefstroom se gevaarvlakke is by 88 kubieke meter water. Daar word nie verdere skade verwag op die huidige stadium nie.”
Inwoners word steeds gemaan om versigtig te wees by oewers en brue as die Mooirivier se watervlakke vanmiddag sal styg.




