Dogtertjie kan nou al vier grondboontjies eet na spesiale allergie-terapie
Dit is beslis ‘n lewensveranderende oomblik vir Siënna en haar ouers, wat nou kan verseker wees dat Siënna se lewe nie meer in gevaar sal wees as sy met grondboontjies in aanraking kom nie.
Die sewejarige Siënna Coetsee se grondboontjie-allergie was op ‘n stadium so erg dat enige interaksie met grondbone haar moontlik sou laat hospitaliseer of selfs kon laat sterf.
Dit het haar lewenskwaliteit beïnvloed en haar ouers raadop gehad, totdat hulle met dr. Jurgens Staats van Rachem Wellness Healthcare Practitioners kennis gemaak het.
Danksy spesiale immunoterapie waar klein hoeveelhede grondboontjieproteine toegedien is, kan Siënna nou vier maande na haar eerste immunoterapiesessie vier grondboontjies sonder allergiese reaksie eet.

Dit is beslis ‘n lewensveranderende oomblik vir Siënna en haar ouers, wat nou kan verseker wees dat Siënna se lewe nie meer in gevaar sal wees as sy met grondboontjies in aanraking kom nie. Maandag, 28 November het Siënna en haar ma, Vidette vir die laaste keer vanjaar vir dr. Staats besoek om haar te monitor nadat sy vier grondboontjies geëet het.
Na ‘n uur was daar geen reaksie nie, terwyl haar bloeddruk, longkapasiteit en suurstofvlakke normaal was.


“Ons hoop dat die effek oor drie jaar permanent sal wees. Dit gebeur met ongeveer 60 tot 70 persent van pasiënte,” noem dr. Staats.
Die Herald het vroeër vanjaar berig dat dr. Staats vir Siënna Vrydag, 3 Junie by Mooimed Hospitaal met ‘n sewe uur lange orale immunoterapiesessie behandel het waar sy spesiale grondboontjieproteine in klein hoeveelhede toegedien is. Sy was ook gemonitor vir enige newe effekte en gevaarlike anafilakse wat met haar allergie gepaard gaan. Haar dosis is elke uur met ‘n paar milligram vergroot, van 0.05 tot en met 2.5 milligram.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/108428/grondboontjie-terapie-kan-dogtertjie-se-lewe-verander/
“Die grootste gevaar is nou verby. Om te dink sy het met 0.01 milligram begin en kan nou al vier grondbone eet. Dit was ‘n goeie uiteinde en ons is verskriklik dankbaar,” noem Vidette.
“Dit is wonderlik dat dr. Jurgens so fantasties was om die pad mee te stap. Sy kan nou saam met ons uiteet. Dit voel soos ‘n wonderwerk,” – Vidette Coetsee
Vidette noem dat sy van dr. Staats te hore gekom het danksy die plaaslike dieetkundige, Idonette van Zyl.
“Idonette het self ook kinders wat allergies is vir sekere goed. Ek het haar genader om my te help en sy het gesê dat sy sterk in dr. Staats se vermoë glo. “Om tot op hierdie punt te kom is vir ons wonderlik,” meen sy.






