Kans vir operasie oorsee bring hoop na 14 jaar van pyn
Juanita Terblanche lewe met trigeminale neuropatie, ‘n voortdurende pyntoestand wat die senuwees in haar gesig affekteer.
Na drie breinoperasies en 14 jaar van pyn, medikasie en besoeke aan spesialiste as gevolg van trigeminale neuropatie, het die Potchefstromer, Juanita Terblanche, ‘n geleentheid om ‘n pynvrye lewe te ervaar.
Vir dit om te gebeur moet Terblanche na Sint-Niklaas in België reis waar Prof. Jean-Pierre van Buyten ‘n gespesialiseerde neuromodulator sal inplant wat haar senuwees in haar gesig sal afstomp om pyn te registreer.
Twee aparte operasies (een vir die battery en een vir die toestel) sal uitgevoer word wat beteken dat Terblanche ten minste vier weke in België sal moet spandeer om te kan herstel.
Die operasie is alreeds goedgekeur en vereffen, maar Terblanche se hospitaal, reis en verblyfkostes is iets wat die pad na genesing tans knou. Terblanche het ongeveer R 150 000 nodig, mits daar nie komplikasies is nie. Sy het ook ‘n Back-A-Buddy aanlynveldtog begin vir die publiek om haar met onkostes te help en bewusmaking van haar siekte te vergroot.

Terblanche lewe met trigeminale neuropatie, ‘n voortdurende pyntoestand wat die senuwees in die gesig affekteer. Sy is ook sedert 2002 met ‘n gebrek in Bloedprotein S gediagnoseer wat beteken dat sy maklik bloedklonte kan kry – sodoende is dit ook belangrik dat sy genoeg tyd het om na die operasies te herstel.
Sy kan net aan haar linkerkant kou, en sukkel gewoonlik met gedeeltelike verlamming van haar regterooglid. Sy ervaar ook onophoudelike pyn, veral as mense aan haar gesig raak.

“Ek kry baie hoofpyn en as mense my drukkies gee en aan my gesig per ongeluk raak is dit ook seer. Sommige dae is erger as ander. Ek het al geleer om nie te veel oor my pyn te dink nie, en net aan te gaan al is dit moeilik. Dit is nie iets wat ‘n mens op jou grootste vyand toewens nie,” vertel Terblanche.
Terblanche, wat bekend was as politikus, LP en aktivis, het alreeds in 2009 uiterste pyn aan die regterkant van haar gesig ervaar. Daar is met ‘n MRI-skandering in 2010 ontdek dat die pyn as gevolg van ‘n breingewas is wat teen haar breinstam druk. ‘n Slagaar het ook teen ‘n senuwee in haar skedel gedruk.
Ten spyte van neurochirurgie in 2010, Gamma-mes-radiochirurgie in 2012 en verdere operasies in 2014, moes van die gewas ongeskonde gelaat word weens die abnormale posisionering daarvan.
“Verdere chirurgie kon veroorsaak het dat ek permanente senuweeskade kon kry of dood kon wees. Net 50% van die wondweefsel kon suksesvol verwyder word,” noem sy.

Na talle mediese behandelings het haar neurochirurg, Dr. Maurizio Zorio, aanbeveel dat sy na die buiteland vir ‘n oplossing kyk. Dit is waar sy van die spesiale chirurgie in België met behulp van elektrodes, te hore gekom het.
“Ek sal so vinnig as moontlik die operasies wil ondergaan aangesien ek alreeds patentreg gekry het,” noem sy.
Benewens haar siekte is Terblanche net ontsettend dankbaar vir almal se ondersteuning in haar lewe. Sy noem dat haar ouers, familie en veral haar kinders, Christian (28), Dani (24) en Gustav (14), haar steunpilare is.
“My kinders is baie bedagsaam en het my baie gehelp. Hulle is ongelooflik dapper en het baie empatie. Ek is so dankbaar vir almal se ondersteuning en gebede van almal wat my ken. Ek glo bewusmaking van my siekte is belangrik. Soveel mense het al oor my pad gekom waar ek hulle ook kon help met verwysings na top neurochirurge soos dr. Zorio.”
Besoek https://www.backabuddy.co.za/juanita-tereblanche-5512220209366015302 vir meer inligting om Juanita Terblanche se mediese onkostes te verlig en haar ‘n kans op ‘n pynvrye lewe te gee.




