Munisipaliteit voer aan dat maatreëls opgestel word om onreëlmatige uitgawes te verminder
By navraag oor die finansiële stand van sake by die J.B. Marks Munisipaliteit is daar gestel dat daar ‘n effense verbetering is vanaf die 2020/21 boekjaar waartydens onreëlmatige uitgawes toe op R325 miljoen gestaan het.

Dit het verlede week aan die lig gekom dat die JB Marks Munisipaliteit se finansies nie goed op dreef is nie. Die ouditeur-generaal (OG) se 2021-22 jaarverslag het bewys dat onreëlmatige uitgawes van R279 miljoen beloop is in die 2021-22 boekjaar.
By navraag oor die finansiële stand van sake by die J.B. Marks Munisipaliteit is daar gestel dat daar ‘n effense verbetering is vanaf die 2020/21 boekjaar waartydens onreëlmatige uitgawes toe op R325 miljoen gestaan het.
“Huishoudelike skuld het toegeneem as gevolg van die toenemende armoedevlakke in die jurisdiksie van die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit. Die impak van Covid-19 en gevolglike werkverliese word steeds rondom die munisipaliteit gevoel, maar daar is pogings om verhoogde inkomste-invordering te verseker,” het J.B. Marks woordvoerder, Jeanette Tshite, genoem.
Chris Hattingh, die DA se kiesafdelingshoof in die J.B. Marks Munisipaliteit, het verlede week aan die Herald genoem dat die munisipaliteit op ‘n afwaartse spiraal staar as daar nie ingegryp word nie.
“JB Marks verloor miljoene rande deur onwettige water- en elektrisiteitsverbindings, terwyl die finansiële verliese weens pypbarstings en ’n vervalle infrastruktuur miljoene meer byvoeg,” het Hattingh gestel.
Hattingh het ook genoem dat daar by die volgende raadsvergadering aan die einde van die maand eenparig saamgestem is dat ‘n Aanpassingsbegroting ingedien moet word.
Die munisipaliteit het verder beklemtoon dat hulle tans besig om maatreëls en stelsels op te stel om onreëlmatige uitgawes te verminder.
“Ons is besig om die rekordbestuurstelsels in die voorsieningsketting te verbeter en ons is besig om die rekenaargebaseerde verkrygingsproses te implementeer, wat die beste verkrygingspraktyke en rekordbestuur sal verseker. Daar is deurlopende ondersoeke oor die vorige jaar se onreëlmatige uitgawes om volledige vermindering te verseker. Daardie ondersoeke sal opgevolg word deur behoorlike prosesse waar daar gevolgbestuur toegepas word,” noem Tshite.