Aansuiweringsbegroting nie in raadsvergadering goedgekeur nie
Tydens die JB Marks Munisipaliteit se publieke raadsvergadering op Dinsdag, 28 Februarie is die goedkeuring van die aansuiweringsbegroting van dié munisipaliteit weer uitgestel weens verskeie gebreke.

Tydens die JB Marks Munisipaliteit se publieke raadsvergadering op Dinsdag, 28 Februarie is die goedkeuring van die aansuiweringsbegroting van dié munisipaliteit weer uitgestel weens verskeie gebreke.
Volgens ‘n persverklaring van die Vryheidsfront Plus, is daar gebrekkige en onvolledige inligting verskaf en sodoende voldoen dit nie aan die die vereistes van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFBW) nie.
Die raad is gewys op artikel 28 (5) sowel as regulasies 21 en 25(1) van die wet wat onder meer bepaal dat die aansuiweringsbegroting sekere materiële inligting moet bevat.
Volgens VF Plus raadslid in die JB Marks Munisipalieit, Thys Rossouw, sluit dit die motivering in vir sekere materiële wysigings tot die begroting en ondersteunende inligting wat benodig word.
“Die regulasies bepaal dat die munisipale raad al die gevolge van die aansuiweringsbegroting en ondersteunende inligting moet oorweeg voordat dit goedgekeur mag word. Die nodige ondersteunende inligting en dokumentasie het ontbreek en daar is gevolglik van die raad verwag om blindelings ‘n aansuiweringsbegroting goed te keur sonder om al die betrokke feite in ag te neem,” noem Rossouw.

Volgens Rossouw was die intensie daar om die aansuiweringsbegroting goed te keur.
“Alhoewel die ANC hard probeer het om die begroting deur te druk, moes die hoof finansiële beampte toegee dat die besware wat geopper is, geldig is,” noem Rossouw.

Die VF Plus het ook wesenlike besware gehad oor die inkorting van die infrastruktuur-begroting, die onderbesteding op instandhouding en veral die feit dat die aansuiweringsbegroting die aanvanklike begroting vir die watersuiweringswerke met ‘n bykomende 6.4 miljoen wil sny.
“Daar word bykomend begroot vir onnodige luukses soos administratiewe uitgawes, R1,05 miljoen vir die burgemeester se kantoor en onder meer ook die “algemene uitgawes” van die munisipale raad en die speaker se kantoor. Dit is onaanvaarbaar dat die begroting vir instandhouding en dienslewering verminder word terwyl fondse op onnodige administratiewe luukshede verkwis word,” brei Rossouw in die persverklaring uit.
*Die Herald het die JB Marks Munisipaliteit vir kommentaar genader, maar nog nie terugvoer ontvang nie.




