Local newsNewsNews

Lewende legende vier sy 80ste verjaarsdag

Netjies uitgevat en deur ‘n ring getrek is hoe baie mense vir Bert sou teëkom wanneer hulle hom vir die eerste keer in sy bekende kuierplek ontmoet het. Sy spierwit hare natuurlik gekam met ‘n snor wat alles mooi afrond.

Potchefstromers wat in die afgelope drie dekades Bert’s Pub & Grill besoek het, het sonder twyfel met ‘n unieke karakter genaamd Bert Otto, kennis gemaak.

Oom Bert, soos meeste Potchefstromers hom ken, vier Saterdag, 11 Maart ‘n besonderse mylpaal wanneer hy 80 jaar oud word.

Al is hy nie meer die eienaar van Bert’s Pub & Grill, wat hy in 1991 saam met Madelein Coetzee begin het nie, sal jy hom steeds nou en dan daar raakloop. Coetzee is nou tans die eienaar.

Oom Bert bly sedert 2022 by Samuel Broadbent Aftreeoord, net ‘n klipgooi weg. Na jare in die hotel- en restaurantbedryf was dit tyd vir ‘n nuwe omgewing met ‘n rustiger pas.

Bert Otto vertel ‘n staaltjie. Foto: Cornelia Hitge.

“Ouderdom is maar net ‘n nommer. Ek voel nie enigsins anders nie,” vertel Bert met ‘n glimlag.

Netjies uitgevat en deur ‘n ring getrek is hoe baie mense vir Bert sou teëkom wanneer hulle hom vir die eerste keer in sy bekende kuierplek ontmoet het. Sy spierwit hare natuurlik gekam met ‘n snor wat alles mooi afrond.

Hy noem juis dat hy reken sy vriendelikheid en persoonlikheid grootliks tot sy legendariese status in die plaaslike gemeenskap bygedra het.

“Ek was altyd gesteld op ‘n netjiese voorkoms en dat ek kliënte met ‘n glimlag bedien het. Ek voel en glo dat mense na 30 jaar se diens ook daardie indruk gekry het,” meen hy.

Verhoudings was vir Oom Bert as eienaar ook altyd belangrik. As daar ‘n nuwe gesig was, wou hy weet wie dit is. Dit is juis wat die tyd daar spesiaal maak – daardie gesellige atmosfeer waar almal welkom voel.

Oom Bert Otto met een van die gedenkstukke uit sy tyd by Bert’s Pub and Grill. Foto: Cornelia Hitge.

Na drie dekades as eienaar van sy befaamde kuierplek en kroeg het Oom Bert ook natuurlik ‘n gunsteling dis om die honger en dors te les.

“Ek geniet sirloin steak – medium, en dan ‘n semi-soet wyn daarby,” vertel hy.

Hierdie byna 80-jarige maak ook geen geheim daarvan dat hy ‘n groot voorliefde vir Elvis Presley se musiek het nie – in sy huis is plakkate van die Koning van Ruk en Rol.

“Ek hou baie van Jailhouse Rock sowel as sy Kersliedere,” noem Oom Bert, wat ook ‘n voorliefde vir rooi en wit het.

Oom Bert Otto was vir drie dekades die gesig van Bert’s Pub and Grill. Hy is nou afgetree en vier op 11 Maart sy 80ste verjaarsdag. Foto: Cornelia Hitge.

Bert is op 11 Maart 1943 in McGregor in die Wes-Kaap gebore en het as kind in Robertson en Worcester skoolgegaan. Hy was later in Hoërskool Pietersburg en het by Helpmekaar Kollege gematrikuleer.

Voordat Bert in Potchefstroom bekendheid verwerf het, was hy vir sowat 20 jaar deel van die Picardi Hotelgroep as bestuurder en het ook later die Kings Hotel in Potch bestuur. Kort daarna het hy Bert’s Pub oopgemaak. Na ontelbare potspel (pool) aande en vele verjaardagpartyjies deur die jare is dit nou tyd vir Oom Bert om die volgende dekade in sy lewe te begin.

“Ek sien nog gereeld mense wat ek deur die jare ontmoet het by Bert’s Pub en dan vra hulle hoe dit gaan. Dit is juis daardie vriendskappe wat ek gebou het wat vir my nou kosbaar is.”

*Oom Bert gaan op Saterdag, 11 Maart by Bert’s Pub and Grill wees vir diegene wat hom graag sou wou gelukwens. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button