Local newsNewsNews

Video: Waterlek in Rocherstraat ‘n skreiende skande

Duisende liters water gaan daagliks verlore weens 'n lek in die ondergrondse pypsisteem.

In Rocherstraat 83 is daar ‘n groot slaggat propvol water wat motoriste daagliks vermy en ‘n groot veiligheidsrisiko is.

Elke week raak die slaggat, weens verskeie waterlekke in Bailliepark, dieper en groter. Daar is ook kleiner slaggate wat verskyn omdat dié waterlek nie herstel word nie.

Video: Wouter Pienaar

Met die Herald se besoek aan hierdie slaggat op Maandag, 3 April, kon daar gesien word hoe skoon drinkwater uit die gat sypel. Liters water gaan daagliks verlore weens ‘n lek in die ondergrondse pypsisteem.

Terwyl padverbruikers die slaggat vermy, trek die waterpoel ‘n hele paar duiwe nader om water uit die “fontein” te drink.

Een inwoner het ‘n twee liter bottel by die lekplek gehou en binne ongeveer 30 sekondes was die bottel vol water. Dit kan uitgewerk word na vier liter per minuut, 240 liter ‘n uur en 5760 liter per dag wat vermors word.

Volgens een van die inwoners en lid van die wykskommittee, Pedro Rankin, is waterlekke ‘n gereelde kopseer in die area.

“Dit is ‘n groot probleem en dit raak nie beter nie. Net verlede week was hierdie gate baie kleiner en dit het vining vergroot. As mens om die draai gaan, loop die water ‘n ver ent en baie water word sodoende vermors,” meen hy.

Pedro Rankin, een van die inwoners in die area, wys hoe groot die slaggat is wat deur ‘n waterlek veroorsaak is. Foto: Wouter Pienaar.
Pedro Rankin staan by die groot slaggat in Rocherstraat.

DA wyksraadslid, Anné van Onselen,verduidelik dat hierdie waterlekke in Rocherstraat al telkemale gerapporteer is.

“Dit maak my briesend dat skoon drinkwater in die pad en om die pad in die dienspad van Paryslaan inloop. Ek vra al ‘n geruime tyd saam met Johan Erasmus en Pedro Rankin dat die munisipaliteit die waterlekke moet regmaak,” noem sy.

Van Onselen noem ook dat die pyp ook nie net geklamp moet word nie en dat daar eerder ‘n nuwe pyp ingesit moet word. Dit is omdat die infrastruktuur van die asbespype al baie verouderd is. As een deel van die pyp geklamp word, dan spring daar ‘n lek by ‘n ander gedeelte van die pyp op.

“Ons kan niks aan die slaggate in die pad doen as die waterlek nie eers herstel word nie,” verduidelik sy.

Die Herald het die munisipaliteit vir navrae genader maar teen druktyd nog nie terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button