Local newsNewsNews

Impressionistiese uitstalling bring jou nader aan intieme belewing van lig en kleur

Dié uitstalling, getiteld Habitat, is ‘n reeks impressionistiese skilderye van tonele uit Susan Wessels se direkte omgewing -stillewes uit haar huis en landskappe uit die Helderberg natuurreservaat waar sy gereeld stap.

Die solotentoonstelling van Susan Wessels, ‘n bekende kwilter en skilder van die Wes-Kaap, het verlede Dinsdag by die Snowflake-gebou geopen. Dié uitstalling, getiteld Habitat, is ‘n reeks impressionistiese skilderye van tonele uit Susan se direkte omgewing -stillewes uit haar huis en landskappe uit die Helderberg natuurreservaat waar sy gereeld stap.

Susan Wessels, die kunstenaar, tydens die openingsgeleentheid by die Snowflake-gebou. Foto: Verskaf

Susan is ‘n oud-Potchefstromer wat hier gebore en groot geword het. Hoewel sy aanvanklik kwiltwerk en skilderkuns eers as stokperdjie beoefen het, het sy later professioneel begin kwilt en skilder en het later Somerset-Wes toe verhuis om by die groter kunstenaarsgemeenskap in die Kaap aan te sluit.

Rachel van der Westhuizen, ‘n plaaslike kunstenaar by wie Susan grootliks haar skilderkunsopleiding ontvang het, is in vervoering oor haar oudstudent wat soveel in haar kuns gegroei het.

“Ek was bevoorreg om Susan jare gelede as kunsstudent aan die Sentrum van Kreatiwiteitsopleiding aan die NWU te leer ken. Sy het toé alreeds uitgeblink met haar unieke kwiltwerk en het ‘n absolute natuurlike aanvoeling vir kleur en ontwerp getoon. Vir Rachel is Habitat ‘n weerspieëling van Susan se karakter. “Dit kom duidelik na vore in haar liefde vir die natuur en oomblikke wanneer lig volgens die impressionistiese styl, vol beweging vasgevang is. Ek sien droomvolle nostalgiese oomblikke in die stillewes en in die damme met waterlelies wat herinner aan die Franse impressionis, Claude Monet se eertydse werk.”

Rachel sê die uitstalling in geheel spreek van ‘n interaksie en ‘n indrink van die natuur waar tekstuur met sukses op veral die sandsteenklippe vasgevang word. “Susan se komposisies is verrassend interessant in die weerspieëlings van blare en ligkolle in die waterpoele. Haar kwashale en kleur is sensitief en soms baie sag in die verte om atmosfeer vas te vang,” gesels Rachel entoesiasties voort.

Rachel van der Westhuizen – Rachel van der Westhuizen, Susan Wessels se voormalige kunsonderwyser, by die kunsuitstalling in die Snowflake-gebou. Foto: Verskaf

Sy sê verder dat Susan met haar uitstalling die “anything goes” filosofie omver gegooi het met “only the special will really do, thank you!”

Rachel is verder dankbaar vir die ondersteuning van die plaaslike kunsgemeenskap. “Dankie aan Snowflake, die kunsvereniging en mense soos die Bothma’s wat ‘n verhoog skep vir ons visuele kunstenaars. Snowflake het na baie suksesvolle uitstallings gereeld goeie kuns na die publiek gebring in ‘n vriendelike omgewing waar almal welkom kan voel. Dankie aan Susan Wessels vir haar volgehoue harde werk en die kwaliteit wat sy na die tafel gebring het. Dit alles maak die lewe n lekker plek vir ons kunstenaars…’n plek van vriendelike aansporing…’n plek waar ons na mekaar kan omsien en ‘n plek waar ons, ons vordering met mede-kunstenaars kan deel.”

Habitat is weeksdae van 7:00 – 19:00 en Saterdae van 9:00 – 19:00 oop vir besigtiging. Die uitstalling ending Saterdag, 22 April. Vir navrae rondom die uitstalling kontak Martie Bothma by 082 850 1200.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button