Privaat kontrakteur help om waterlek in Rocherstraat te herstel
Leslie Taggart wat op die Wykskomitee van Wyk 3 dien, het gereël vir 'n privaat kontrakteur om Rocherstraat se lek te gaan herstel.
Die waterlek in Rocherstraat wat al ‘n geruime tyd probleme skep is gister (Donderdag, 7 April) danksy ‘n plaaslike kontrakteur herstel.
Leslie Taggart wat op die Wykskomitee van Wyk 3 dien, het gereël vir ‘n privaat kontrakteur om Rocherstraat se lek te gaan herstel.

Hierdie problematiese waterlek en gepaardgaande slaggate is al telkemale aan die J.B. Marks Munisipaliteit gerapporteer, maar daar was nie aandag geskenk daaraan nie. Die Herald het vandeesweek oor hierdie waterlek en slaggate berig na inwoners keelvol was vir die gebrek aan instandhouding.


“Na ‘n gesprek met ‘n kundige kontrakteur wat in die verlede betrokke was met die vervanging van uitgedunde waterpype regoor Potchefstroom, het Willie van der Merwe van WJ Loodgieters dadelik ingestem om aandag daaraan te gee en noodherstelwerk was dadelik gedoen,” noem Taggart.

Hy noem ook dat daar egter weer dringend werk op verskeie huisaansluitings gedoen moet word om die verouderde pype te vervang sodat daar ‘n volhoubare oplossing vir die aanhoudende waterlekke in Bailliepark kan wees.
Volgens wyksraadslid, Anné van Onselen, is daar verdere waterlekke in Neethlingstraat en Piet Cronjestraat intussen ook aan die munisipaliteit gerapporteer.
*Die munisipaliteit het nog nie teen druktyd op die Herald se navrae gereageer nie.




