Kabeldiefstal los inwoners sonder krag
Die gevolg hiervan is dat woonhuise nie elektrisiteit het nie en dat straatligte dan ook nie werk nie
Kabeldiefstal is tans ‘n groot probleem vir inwoners in wyk 5 waar daar oor die afgelope maand verskeie voorvalle, veral tydens beurtkragure plaasgevind het.
Die gevolg hiervan is dat woonhuise nie elektrisiteit het nie en dat straatligte dan ook nie werk nie. Heinricha Hodgson, die DA wyksraadslid in wyk 5 het genoem dit blyk dat hierdie kabeldiewe ook weet waar die kameras in die straat is en sodoende ontduik hulle dit.


Volgens ‘n inwoner in wyk 5, Altus Snyman, is daar al vir die afgelope paar maande probleme met kabeldiefstal. “Dit is ‘n groot probleem veral tydens beurtkrag. Dit ruk nou al handuit die afgelope tyd,” het hy genoem.
Daar was in Sylviastraat sowel as Sol Plaatjiestraat ‘n hele paar gevalle waar infrastruktuur beskadig is en elektrisiëns vir herstelwerk ingeroep moet word. Die voorvalle het ook beide in en buite beurtkragure gebeur. Christiaan Haefele van Mooirivier Beskerming het bevestig dat daar ook vroeër hierdie maand ‘n voorval in Sylviastraat was waar kabels gesteel is. Volgens hom het dit vroeg in die oggend omstreeks 01:00 gebeur.




