Local newsNewsNews

Slaggate kort dringend aandag in Bailliepark

Wyksraadslid Anné van Onselen is bewus van ‘n hele paar inwoners wat skade aan hul voertuie se bande en wielvellings opgedoen het as gevolg van die toestand waarin die paaie is.

Inwoners van Wyk 3 in Bailliepark hou saam met hul wyksraadslid, Anné van Onselen duimvas vir verbetering van die slaggat-gevulde strate in hulle area.

Dit na ‘n bosberaad wat vanaf 4 tot 5 Mei deur die J.B. Marks munisipaliteit gereël is om dienslewering en die herstel van slaggate te bespreek.

Van Onselen sê dat daar tydens die bosberaad genoem is dat nuwe kontrakteurs binne ‘n week aangestel gaan word om met die herstel van slaggate te help. Van Onselen sê verder haar grootste bekommernis is dat verskeie kontrakteurs nie oor die nodige vaardighede beskik om goeie kwaliteit herstelwerk te lewer nie.

Een voorbeeld van die talle slaggate wat in Bailliepark is. Foto: Wouter Pienaar.

Gastehuis eienaars soos Lindi van Deventer, eienaar van Tierra Pequena B&B and Equestrian, is vol hoop dat Wynnestraat heeltemal oorgeteer kan word met behoorlike dik teer en geseël word.

“Laslappiewerk sal nie genoeg wees nie aangesien paaie in Bailliepark die afgelope paar jaar afgeskeep is,” sê Van Onselen.

Minette Scott, ‘n inwoner in Republiekstraat, wys na die slaggate wat in die middel van die pad is. Hierdie is maar net ‘n druppel aan die emmer van wat Bailliepark inwoners daagliks moet trotseer. Foto’s: Wouter Pienaar.

Pieter Lessing, wat sedert April 2017 in Williamstraat bly, sê dat die pad al vir meer as ‘n jaar in ‘n haglike toestand is, maar dat daar geen poging vanaf die munisipaliteit aangewend is om dit te herstel nie.

Strydomstraat inwoner Brenda Leonard sê dat die pad al vir jare lank in ‘n toestand is. Volgens Leonard word dit soms herstel, maar swak gehalte werk word gedoen, of verdere gate word gevorm wanneer gate net gevul word en nie geteer word nie.

Eddie Coetsee bly al vir 11 jaar in Vineystraat en sê dit is die slegste wat die pad nog gelyk het. “Dit lyk al vir langer as twee jaar so, en raak net by die dag erger,” sê Coetsee, “Ek het al ‘n band op my voertuig verloor as gevolg van die pad se toestand.”

Mignon van Vreden bly vanaf November 2010 in Malvastraat en sê dat alhoewel die slaggate met gruis gevul word, hul voertuie steeds skade opdoen. “Dis nog altyd so,” merk Van Vreden op in verband met die toestand waarin Malvastraat tans is.

Van Onselen rapporteer al sedert November 2021 Wyk 3 se slaggate aan die munisipaliteit.

“Ek het self al menige WhatsApp boodskappe direk aan die verantwoordelike amptenare gestuur, asook e-posse,” sê Van Onselen, “Ek het in-persoon verskeie versoeke gerig vir hulp om die haglike toestand van die paaie in Wyk 3 aan te spreek. As ek dit moet kwantifiseer, het ek al 21 verskillende WhatsApp versoeke op verskillende datums sedert November 2021 gestuur. Ek vra maandeliks in-persoon ook vir aandag.”

Verder noem Van Onselen dat sy bewus is van ‘n hele paar inwoners wat skade aan hul voertuie se bande en wielvellings opgedoen het as gevolg van die toestand waarin die paaie is.

“Die plaaslike inwoners weet min of meer waar die slaggate is en ry kronkel-kronkel en heen-en-weer op die pad om die gate te vermy,” sê Van Onselen, “Mens kan egter sien wanneer dit besoekers in die dorp is want hulle ry reguit op die pad en weet nie waar die slaggate is nie. Ek het persoonlik al vele besoekende motoriste gesien met pap bande langs die pad nadat hul ‘n diep slaggat getref het.”

Minette Scott staan by die talle slaggate in Republiekstraat wat ‘n groot kopseer veroorsaak. Foto: Wouter Pienaar.

Leonard, sê sy ry soos ‘n dronkaard om die gate te vermy.

“My bure het ‘n groter voertuig gekoop wat meer vir growwe terrein gemaak is,” sê Leonard.

Lessing, stel voor dat alle strate in Potchefstroom herbou word en geteer word. Lessing meen dat deur goeie finansiële bestuur en deurgaanse instandhouding van paaie, die haglike toestand van Potchefstroomse paaie vermy kan word.

“Strydomstraat moet heeltemal gelig word en herteer word met ‘n goeie gehalte teer en bekwame kontrakteurs,” meen Leonard.

Minette Scott, wat al 31 jaar lank in Republiekstraat bly, sê dat daar al pogings aangewend is om die pad te herstel, maar dat die laaste herstelwerk van swak gehalte was en dat die slaggate weer oopgegaan het. “Die gate moet behoorlik reggemaak word,” sê Scott, “Daar moet ‘n groter area gedek word tydens die herstelwerk, nie net die slaggat nie.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button