Ouma en skool gebroke na twee kleinkinders verdrink
'n Ouma rou die dood van twee van haar kleinkinders, Anele (8) en Tlhoriso Nhlapo (6), wat op 13 Mei saam met Mareis Thabiso Ramekwa (29) op ‘n plaasdam uit 'n kano geval en verdrink het.
Ouma Onnie Phiris (55) se hart is stukkend na haar kleinkinders, Anele (8) en Tlhoriso Nhlapo (6) op ‘n plaasdam ongeveer 20km buite Potchefstroom, verdrink het.
“Dit is baie seer veral as ek verby die dam op pad werk toe stap. Ek het twee dae aanhoudend gehuil,” vertel Onnie, wie haar kleinkinders soos haar eie kinders grootmaak.
Die twee boeties het op Saterdag, 13 Mei saam met ‘n plaaswerker in die area, Mareis Thabiso Ramekwa (29) in ‘n kano geklim om hom te help pale haal met die doel om glo ‘n struktuur te bou. Ramekwa het volgens ooggetuies nie ‘n roeispaan gehad nie. Kort nadat hulle die water ingevaar het, het die kano omstreeks 09:00 omgeslaan. Ramekwa het ook tydens die voorval verdrink.
Anele en Tlhoriso se oudste boetie, Mpilo (11), wou nie saam op die kano gaan nie. Hy het op die wal gebly en gesien hoe die kano omval waarna hy onmiddelik gaan hulp roep het.

Noordwes polisiewoordvoerder, kol. Adele Myburgh noem dat polisie kort daarna daardie oggend op die toneel was. Polisieduikers is ingespan om die liggame op te spoor.
“Die area van die dam is met watergras besaai wat dit baie moeilik en ook gevaarlik gemaak het vir die polisieduikers,” het Myburgh verduidelik.
Myburgh het bevestig dat die kinders se liggame op 18 Mei en 19 Mei gevind is terwyl Ramekwa se liggaam op 21 Mei opgespoor is.
Onnie, wat by Dawn van Rensburg in die area op ‘n plot vir die afgelope 12 jaar werk, was nie ten tyde van die voorval by die huis nie en het gehelp om saam met Dawn by ‘n skietbaan kos te maak.
“Dit is sulke verskriklik nuus om te kry. Ek is nou nog in skok. Hulle kan nie swem nie, maar steeds was hul saam gewees. Hul wou net help soos kinders maar doen,” sê Onnie.

Anele en Tlhoriso, wat saam met hulle ouma gewoon het, was albei leerders van Ourief Primary ongeveer ‘n kilometer weg van waar hulle gebly het. Anele was in graad 1 en Thloriso in graad R.
Dit is vir hul onderwyseres by Ourief, Anna Mothlaping, baie swaar om te weet dat hulle so vroeg weggevat is.

“Hulle het nog ‘n hele lewe voor hulle gehad. My hart is stukkend,” noem sy.
Die hoof van Ourief Primary, Jacob Ramotsoela, stel voor dat daardie dam toegespan moet word sodat sulke ongelukke in die toekoms ook verhoed kan word.
Anele en Tlhoriso is twee van drie familielede wat Onnie aan die dood in die afgelope drie jaar moes afstaan. Haar seun en hul pa, Thapelo Nomazele, is drie jaar gelede in ‘n tref-en-trap ongeluk oorlede.
“Die seer gaan nooit weg nie, maar ons moet maar net aangaan al is dit moeilik,” meen Onnie terwyl sy na die dam kyk waar haar twee kleinkinders hul laaste asems geblaas het.





