Kunste Clash skep nuwe suksesvolle Gimmie-Volkie tradisie
'n "Dance-off", drama-improvisasie en kunsstryd het Gimmies se leerders gewen terwyl Volkies se leerders die Woordwarrel idiome-kompetisie gewen het.
Potchefstroom se bekende Afrikaanse hoërskole en tradisionele teenstanders het Maandag, 22 Mei, ‘n nuwe tradisie begin as deel van die reeds-bekende Gimmie/Volkie sportnaweek.
Die kunste is nou ook deel van die pret van hierdie Clash. ‘n “Dance-off”, drama-improvisasie en kunsstryd het Gimmies gewen terwyl Volkies die Woordwarrel idiome-kompetisie gewen het.

Die heel eerste Volkie/Gimmie Kunste Clash het Maandag, 22 Mei begin met dans en drama waar die deelnemers moes improviseer. Die deelnemers en gehoor het die aand ontsettend baie geniet, waar die gehoor met tye selfs saamgedans het. Gimmies het weggestap as wenners in die dans en drama kategorieë.

Dinsdag het die kuns- en woordwarrelkompetisie plaasgevind, waar Gimmies as wenners van die kunste-afdeling weggestap het. Die Woordwarrel is ‘n inisiatief wat saam met die ATKV aangepak is om figuurlike taalgebruik by leerders te bevorder. Die deelnemers het voor die tyd ‘n hoeveelheid idiome geleer en het in spanne van twee, tipiese Noot-vir-Noot styl, teen mekaar deelgeneem.

Die Quiz Clash, wat vir die sport-afrigters van die twee hoërskole gereël is, is in die stylvolle BLUSH GINBAR deur Ansonette Werkman (Gimmies) en Anneke van Schalkwyk (Volkies) aangebied. Hierdie onderwysers het die inisiatief gehad om ‘n heerlike kompetisie tussen die twee skole se sport-afrigters te reël. Kennis is getoets deur die alombekende GP van Rheede van Oudtshoorn en Volkies het as wenners uitgetree.



Gimmies het as algehele wenners van die Kunste Clash aangewys, en het hul hoop uitgespreek om in die toekoms ‘n groter Kunste Clash te kan beleef. Die holistiese ontwikkeling van hul leerders is vir hul baie belangrik, en hul is dankbaar dat beide hoofde ingestem het om die Gimmie-Volkie uit te brei na kunstekompetisies ook.




