Rowers sak toe op bank in middestad
Die verdagte binne die bank het na bewering een skoot in die dak afgevuur en 'n man genader wat banksake gedoen het.

Gewapende rowers het Maandagmiddag (3 Julie) op die ABSA tak in Walter Sisululaan toegesak en na bewering ‘n groot hoeveelheid kontant by een van die kliënte in die bank gesteel.
Daar word verneem dat die rowers die man oor die kop geslaan het en dat ‘n skoot afgevuur is. Niemand is raak geskiet of ernstig beseer nie.
Volgens Noordwes polisiewoordvoerder, kapt. Sam Tselanyane, was daar twee verdagtes in die rooftog betrokke.
“Een van die verdagtes het binne die bank ingegaan, terwyl die ander een by die deur gewag het. Die verdagte binne die bank het na bewering een skoot in die dak afgevuur en ‘n man genader wat banksake gedoen het.
“‘n Sak geld met ‘n onbekende bedrag kontant is by die slagoffer gegryp en die verdagtes het uit die bank gehardloop,” verduidelik Tselanyane.
Die verdagtes het na bewering in ‘n rooi voertuig geklim wat buite die bank geparkeer was en het van die toneel gevlug.
Volgens Tselanyane is niemand nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.



