Video: Edwin loop vir die eerste keer na sy motorongeluk
Dinsdag, 4 Julie was ‘n spesiale mylpaal in die oud-Gimmie, Edwin Nelson (18) se lewe toe hy die eerste keer na sy gru-motorongeluk met sy nuwe prosteses kon loop. Edwin was op 28 Mei in ‘n motorongeluk omstreeks betrokke omsteeks 04:00 op die R53 vanaf Potch na Vaalpark toe hy beheer oor sy motor verloor …
Dinsdag, 4 Julie was ‘n spesiale mylpaal in die oud-Gimmie, Edwin Nelson (18) se lewe toe hy die eerste keer na sy gru-motorongeluk met sy nuwe prosteses kon loop.
Edwin was op 28 Mei in ‘n motorongeluk omstreeks betrokke omsteeks 04:00 op die R53 vanaf Potch na Vaalpark toe hy beheer oor sy motor verloor het. Hy het albei sy bene onder die knieë in hierdie ongeluk verloor toe die staalversperrings deur sy kardeur gesny het.
Om die afgelope week vir die eerste keer weer te kon staan en weer moet leer loop was vir Edwin ‘n “wow-oomblik.”
“Sy bene is nog redelik seer (weens wonde wat herstel) en dit is ‘n stadige proses. Hy kan nog nie 100% loop nie, so hy gaan volgende week verder hulp kry om te begin leer loop,” vertel sy niggie, Jennifer Schoeman.
Edwin moet nou eers gewoon raak aan die prostese en met krukke oefen, voordat hy sy eie permanente prosteses sal dra.
Edwin het ongeveer vir drie weke rehabilitasie by Mooimed Hospitaal ontvang en is op Maandag, 3 Julie ontslaan. Hy is tans by Johan Snyders, ‘n ortotis van Pretoria, en toon baie goeie vordering.
Edwin, wat terug by sy familie in Vaalpark is, is baie positief en is doelgerig om weer te kan loop met die doel om weer in sport deel te neem.
“Hy vorder goed met die rehabilitasie. Hy kan alles al self doen. Hy geniet die oefening die meeste. Elke dag vra hy vir my “gaan ons gym?”, so ek dink hy hou daarvan om te sien hoe sy liggaam vinnig so sterk kan word,” vertel Schoeman.
Nog ‘n aspek wat Edwin sterk hou, is die feit dat hy volgehoue ondersteuning van sy familie en vriende ervaar. Sy vriende het tot in die parkeerarea van Mooimed-hospitaal vir hom ‘n braai gehou en net lekker gekuier.
“Sy vriende speel definitief ‘n groot rol. Hulle kuier soveel as moontlik by hom. Dis verbassend hoe goed hulle almal weet hoe werk ‘n rolstoel en hoeveel keer hulle self op hom klim en ook te wys hulle kan “wheelie,” skerts Schoeman.
Edwin is veral dankbaar vir die werk wat Dr. Kobus Slabber en verskeie fisioterapeute by Mooimed-hospitaal verrig het.
“Ek wil net baie dankie sê aan die Mooimed-span en die fisioterapeute wat my deur die proses gehelp het, nie net fisies nie, maar emosioneel ook,” het Edwin op ‘n Facebook-video genoem.