Local newsNewsNews

Edwin met Mathys Roets-toekenning van Hoop vereer

Ongeveer twee maande na sy lewensveranderende motorongeluk, is die oud-Potchefstroom Gimnasium leerder en hokkiester, Edwin Nelson, op Vrydag, 28 Julie met die Mathys Roets-toekenning van Hoop vereer.

Die oud-Potchefstroom Gimnasium leerder en hokkiester, Edwin Nelson, is op Vrydag, 28 Julie met die Mathys Roets-toekenning van Hoop vereer.

Die Mathys Roets-toekenning van Hoop is tydens Solidariteit Helpende Hand se Afrison
Liefde In Gestremdheid (LIG)-konsert by Sol-Tech se Monumentpark-kampus in Pretoria aan
Edwin en die musikant, Prop, oorhandig.

Dié toekenning word opgedra aan mense met gestremdhede wat ʼn inspirasie vir die gemeenskap is.
Helpende Hand het dit in 2022 na Mathys vernoem toe hulle dit aan hom oorhandig het vir sy
deursettingsvermoë.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, saam met Edwin Nelson. Foto: Verskaf.

Hierdie toekenning was vir Edwin (18) ‘n groot verrassing en net nog iets wat hom motiveer in sy reis na herstel na sy gru-ongeluk op 28 Mei vanjaar.

Edwin het albei sy voete tydens hierdie motorongeluk op die R53 tussen Parys en Potchefstroom verloor het en het die afgelope twee maande met wilskrag en moed hoop uitgestraal orals waar hy gaan.

Hy het verlede in die begin van Julie ook vir die eerste keer met prosteses begin loop as deel van sy rehabilitasieproses.

ʼn Emosionele Edwin het by die geleentheid gesê hy het reeds op die ongelukstoneel waar sy lewe in
ʼn oogwink verander het, begin om die trauma te verwerk. Hy was hy op 28 Mei van Potchefstroom
na sy huis in Vaalpark op pad toe hy beheer oor sy voertuig verloor en teen versperrings langs die
pad gebots het. Hy was vir twee uur in sy voertuig vasgekeer voor hulp opgedaag het.

“Die ondersteuning wat ek van geliefdes en vreemdelinge, selfs van oorsee, ontvang het, was en is
steeds oorweldigend. Dit het my aangemoedig om op te staan en nie te bly lê nie. Ek wou so gou as
moontlik weer mobiel raak, en ses weke ná my ongeluk het ek begin om prosteses te gebruik,” het
hy gesê.

Edwin sê hy hoop hy kan ander mense inspireer en die ondersteuning bied wat hy gekry het. Daarom
het hy by die geleentheid besluit om R10 000 aan Helpende Hand se studiefonds vir gestremde
persone te skenk.

“Ek het nie geweet ek gaan ’n toekenning kry nie, veral nie van Mathys Roets af nie, so dit is baie
spesiaal vir my. Dit gee my meer selfvertroue omdat dit wys mense glo in my. Ek wil vir ander
jongmense wys dat ek in hulle glo en ek hoop ek kan ʼn verskil in hul lewens maak. Dit is maar net die
begin van groot dinge,” het Edwin gesê.

Prop, wat met pseudoachondroplasie (oftewel semidwergisme) leef en ook ʼn argitek is, is veral
vereer vir sy positiewe geaardheid, en omdat hy iemand is wat uitdagings aanpak en volhard.
“Dit is nie net ʼn erkenning van my gestremdheid nie, maar van al die mense wat met gestremdhede
leef,” het Prop oor sy toekenning gesê.

Mathys Roets en Prop.

“Dit bring vir my rustigheid dat daar op ʼn mooi manier erkenning gegee word aan mense wat anders
is. Ons is nie spesiaal of vreemd nie, maar ons waardeer die erkenning dat ons elke dag moet leef in
’n wêreld wat nie by ons leefstyl aangepas is nie. Ja, ons is wel anders as ander mense, maar ons
doen ons bes en gaan aan. En as ons kan, kan jy ook.”

Nog ʼn hoogtepunt van die LIG-konsert was ʼn fakkelseremonie waartydens konsertgangers fakkels
aangesteek het om hulde te bring aan persone met gestremdhede.

“Mense met spesiale behoeftes moet erkenning kry omdat hulle waardevolle lede van ons
samelewing is en omdat hulle unieke perspektiewe en talente het. Deur aan hulle erkenning te gee,
word inklusiwiteit bevorder, wat die fondament van ʼn regverdige samelewing is,” sê Suzette
Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en die Forum vir Persone met Gestremdhede.

Die wenner van Helpende Hand se Sê jou Sê-kultuurkompetisie vir leerders met gehoorverlies is ook
tydens die geleentheid bekendgemaak en Afrison, die hoofborg van die konsert, het ʼn skenking aan
Helpende Hand se LIG-studiefonds vir persone met gestremdhede gemaak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button