Studente onthuts na betogers wiskunde-eksamen op kampus ontwrig
Eerstejaarsstudente op die NWU Potchefstroomkampus moes gisteroggend (Woensdag, 2 Augustus) ‘n wiskunde eksamenvraestel op kampus skryf, terwyl onwettige betogings binne en buite die lokaal plaasgevind het.
Eerstejaarsstudente op die NWU Potchefstroomkampus moes gisteroggend (Woensdag, 2 Augustus) ‘n wiskunde eksamenvraestel op kampus skryf, terwyl onwettige betogings binne en buite die lokaal plaasgevind het.
Volgens ontstoke ouers en studente, wat verkies om anoniem te bly, het ‘n groep betogers die deure van die lokaal probeer oopruk, buite die lokaal gesing en op die studente geskree wat die eksamen geskryf het. Een betoger het ook glo by die lokaal ingekom en opmerkings geskree om die studente te intimideer.
Talle studente en hul ouers het na afloop van hierdie tweede geleentheid eksamen, wat nie weens die optogte herskeduleer is nie, e-posse aan die NWU gestuur om hulle kommer oor die situasie te verwoord.
Die NWU het op Dinsdag, 1 Augustus, kommunikasie uitgereik waar hul genoem het dat kontakklasse gestaak sou word weens die feit dat daar probleme is rakende NSFAS-betalings en die gebruik van die diensverskaffer, Norraco rakende die uitbetaling van fondse aan studente.
Daar is kommunikasie aan die eerstejaarstudente uitgestuur dat hul wel die wiskunde vraestel op 2 Augustus in lokaal J6 op kampus skryf, aangesien akademiese verrigtinge steeds voortgaan en daar goedkeuring vir hierdie eksamengeleentheid op kampus gegee is.
NWU Beskermingsdienste was ook by die lokaal om die veiligheid van studente te verseker.
Volgens een van die studente wat die eksamen geskryf het en verkies om anoniem te bly, was daar voor die tyd onrustigheid rondom moontlike betogings, maar dat hul steeds gaan skryf het omdat hul veiligheid verseker was.
“’n Mens glo dat alles reg sal wees omdat ‘n mens na outoriteit luister, as studente aanvaar ons dit. Die eksamen het 09:00 begin en ons was soos gewoonlik ‘n halfuur voor die tyd by ons banke. So teen 08:55 merk ek op dat daar nog ‘n student buite die lokaal staan. Daar was ook sekuriteit wat by die lokaal was. Daar was toe ‘n groep EFF-lede wat by die deur van die lokaal gestaan het en probeer inkom het,” vertel die student.
Volgens die student is dit waarskynlik dat die betogers presies geweet het dat daar ‘n eksamen by die lokaal geskryf sou word, maar die studente wat geskryf het, nie ingelig was oor wat moontlik sou kon gebeur rakende hul veiligheid nie.
“Ek voel dat ons veiligheid nie in ag geneem is nie. Hoe kan ons ‘n eksamen skryf wat ons toekoms bepaal onder sulke omstandighede? Die ergste was toe een van die betogers binne die lokaal gekom het. Ek weet nie hoekom sekuriteit hom ingelaat het nie. Hy het seker vir vyf minute op ons geskree en rassistiese opmerkings gemaak,” noem die student.
Volgens die student is die betoger na buite geneem, maar daarna is daar op vensters gekap, gesing en aan deure geruk, wat dit uitdagend gemaak het om die eksamen te skryf.
“Ons kan nie verwag word om so te skryf nie. Ek voel die eksamen moet herskryf word. Dit was regtig ontstellend. Een van die dosente het ook opgedaag en ek’t gedink hul sou die eksamen staak en ons inlig wat gebeur, maar toe neem die dosent ‘n video.”
Die Herald het navraag aan die NWU gestuur rondom die voorval. Die NWU het die Herald verwys na kommunikasie wat gister aan alles belanghebbendes en studente gestuur is.
“Versuim om hierdie assesserings te skryf sal ‘n direkte impak hê op registrasie vir tweede semester. Daarom is goedkeuring verleen dat hierdie sessies in ‘n aangesig-tot-aangesig-omgewing voortgaan. Die eerste vraestel is gister geskryf, en die tweede vraestel word vandag, 3 Augustus 2023 geskryf. Kommunikasie (e-pos en SMS) is betyds aan alle geaffekteerde studente gestuur. Dit gebeur oor al drie kampusse heen. Hierdie studente moet toegelaat word om met hul studies voort te gaan,” noem NWU woordvoerder, Louis Jacobs.
Jacobs het ook bevestig dat vandag (Donderdag, 3 Augustus) se tweede wiskunde vraestel sonder enige ontwrigtinge, voltooi is.
Jacobs staaf ook dat studente moet verstaan dat alhoewel hulle die regte het om hul ontevredenheid uit te spreek, daardie regte met verantwoordelikhede gepaard gaan.
“Die universiteit se reëls is baie duidelik hieroor. Onwettige betogings en skending van die regte van ander sal nie geduld word nie en die betrokkenes sal die gevolge moet trotseer in terme van die toepaslike reëls en beleide.”
“Hierdie onwettige betogings was glo oor die voortsetting van akademiese aktiwiteite in sommige van ons fakulteite. Ons moet dit duidelik stel dat die universiteit se akademiese program voortgaan, en wanneer skole of fakulteite en studente toestemming versoek het om voort te gaan met sekere aktiwiteite wat regulatoriese en ander implikasies het, moes bestuur dit toelaat, en verantwoordelik optree om die belange van die universiteit se akademiese standaarde en reputasie te beskerm,” verduidelik Jacobs.
Verder word daar ook klem gelê dat die universiteit ‘n aanspreeklikheid het teenoor al hul belanghebbendes om die binne die parameters van die landswet op te tree.
“Daarom sal ons nie, in elk geval of vorm, ons studente ondersteun of aanmoedig om aan onwettige byeenkomste of protesaksies deel te neem nie. Ons sal verantwoordelik en aanspreeklik gehou word indien daar skade aan eiendom of sterftes tydens sulke gebeurtenisse sou wees,” meen Jacobs.
Die NWU doen ook ‘n beroep op alle belanghebbendes vir samewerking sodat kontakklasse weer kan plaasvind en verrigtinge na normaal sal terugkeer.
“Ons beweging na aanlyn klasse is slegs ‘n tydelike maatreël. Ons verwag om binne die volgende paar dae na ons normale kontakklasse terug te keer. Ons het hierdie voorsorgmaatreël getref om NSFAS en Norraco toe te laat om hul probleme op te los en al ons studente in staat te stel om ten volle aan die akademiese program deel te neem. Ons gaan voort om daagliks met beide NSFAS en Norraco te vergader om te help met die oplossing van uitdagings wat ondervind word.”
Die NWU bevestig ook dat gradeplegtighede op 3 en 4 Augustus steeds sal voortgaan.



