‘n Nuwe baadjie vir ‘n uiters noodsaaklike diens in Potchefstroom
Mooirivier Beskerming verwelkom graag twee vennote, MooiMed Hospitaal en Quattro Fuels, wat hulle hande uitgesteek het en die ontsaglike waarde en belangrikheid van hierdie diens erken.
Mooirivier Beskerming, in samewerking met ER24, het twee jaar gelede die First Responder diens begin wat die gemeenskap van Potchefstroom tydens mediese noodgevalle bystaan.
Vir die twee jaar tydperk en byna 2 000 mediese uitroepe, was die Isuzu-bakkie die voertuig wat deur Mooirivier Beskerming First Responder gebruik is.
Dit is egter met groot waardering dat Mooirivier Beskerming hulle nuwe nood mediese voertuig kan bekendstel. Alhoewel Mooirivier Beskerming First Responder aanvanklik geskep is as ‘n waardetoegevoegde diens vir hulle kliënte, het die gemeenskap van Potchefstroom se noodkrete vir bystand geweldig toegeneem. Mooirivier Beskerming se doel is om te help waar hulle moontlik kan, veral wanneer ‘n lewe op die spel is.
Die hulp kom egter teen ‘n koste en met beperkte hulpbronne is dit nie altyd moontlik om doeltreffend te reageer nie. Mooirivier Beskerming verwelkom graag twee vennote, MooiMed Hospitaal en Quattro Fuels, wat hulle hande uitgesteek het en die ontsaglike waarde en belangrikheid van hierdie diens erken.
Hulle het Mooirivier Beskerming met die nodige hulpbronne toegerus om die lewensreddende missie voort te sit. Deur kragte saam te span met die nuwe vennote, is die fondament waarop Mooirivier Beskerming gebou is, versterk – ‘n fondament van deernis, diensbaarheid en onwrikbare toewyding.
MooiMed, Quattro Fuels en ER24 se bydrae maak ‘n beduidende verskil in Mooirivier Beskerming se vermoë om op noodgevalle te reageer, wat uiteindelik meer lewens red en ons gemeenskap vir almal ‘n veiliger plek maak.






