Inwoners moedeloos oor konstante rioollekke
My hele erf is vol riool!” Dit is die moedelose woorde van Marihana Tredoux, wat sedert 1991 in Beyers Naudestraat woon. “Dit sal Sondag drie weke wees wat ek sukkel en ek weet nie meer wat om te doen nie,” vertel Tredoux desperaat. “Ek bel die munisipaliteit en hulle sê die pomp by Dyerstraat is …
My hele erf is vol riool!”
Dit is die moedelose woorde van Marihana Tredoux, wat sedert 1991 in Beyers Naudestraat woon.
“Dit sal Sondag drie weke wees wat ek sukkel en ek weet nie meer wat om te doen nie,” vertel Tredoux desperaat. “Ek bel die munisipaliteit en hulle sê die pomp by Dyerstraat is stukkend, maar hulle kry nie ‘n nuwe ‘n pomp nie.”
Tredoux noem dat die probleem opgelos sal word sodra die hoofdrein oopgemaak word. Die hoofdrein verstop en veroorsaak ‘n oorspoeling van riool.
“Dit lyk of my erf die laagste lê, en nou dam dit hier by my op,” sê Tredoux. Volgens haar hou die pomp die riool onder die oorloop lyn wanneer die krag aan is.
“Die afgelope ses, sewe jaar gebeur dit gereeld,” sê Tredoux, “dis die eerste keer wat dit so lank aan die gang is. Voorheen was dit blokkasies, nou is die pomp die probleem.”
“Ek het ongeveer drie weke gelede die eerste keer ‘n klagte ontvang van riool wat in inwoners se erf in Beyers Naude loop,” sê Heinricha Hodgson, wyk 5 wyksraadslid.
“Die week van 14 Julie het dit ‘n hoogtepunt bereik toe die hele straat vanaf Beyers Naude 146-150 vol riool was en dit selfs op huise se voorstoepe sigbaar was. Een inwoner het riool in sy stort gehad. Aanvanklik het die personeel van die stadsraad vir my en die inwoners gesê die oorsaak is die Dyerstraat pompstasie. Daardie pomp het 15 Julie uitgebrand en moes vervang word. Nadat die pomp vervang is, het dit vir twee dae beter gegaan, maar teen 18 Julie het die riool weer in nommer 146 se erf begin opstoot,” sê Hodgson verder.
Alta Keet, nog ‘n inwoner in Beyers Naudestraat, sê dat hulle al vanaf 11 Julie aan en af met verstoppings sukkel.
“Dit was op ‘n stadium omtrent vir ‘n week wat dit elke dag verstop is, dit was nou vir ‘n dag of drie beter, maar het hierdie week weer begin,” sê Keet. “Dit is ‘n vrot, onaangename en ongesonde gemors. Die riool het 15 Julie ook na die erf agter Beyers Naude 146, in Nieuwestraaat, deurgeloop,” sê Hodgson.
“Talle inwoners het my in kennis gestel van die riool wat in dié straat afloop. Dit is ‘n leë erf wat letterlik vol riool was.”

Pierre Knoesen wat vir drie jaar in Beyers Naudestraat woon, is bekommerd oor sy kinders se gesondheid.
“Ons het klein kinders en ‘n Jack Russel hondjie. “Dis ‘n gesondheidsrisiko en die reuk in ons huis is ondraaglik,” sê Knoesen. “Dis die eerste keer dat ons riool oorstoot by die buite dreine en in my seun se kamer stort. Nadat hul (J.B. Marks munisipaliteit) ‘n nuwe pomp in Dyerstraat geïnstalleer het, stoot dit net gedurende beurtkrag oor.”
“Teen verlede week was die hele straat weer geaffekteer. Ek het ‘n formele skrywe vir dringende intervensie vanaf die stadsraad gestuur, en die direkteur het laat weet dat hulle die pype met ‘n hoëdruk masjien sou gaan uitspuit,” sê Hodgson.
Tredoux, wie se erf in ‘n riooldam verander het, het ‘n paar dae later genoem dat die drein vanaf Saterdag, 29 Julie weer oop is.
“Die riool is nou weg, maar kyk met wat sit ek nou,” sê Tredoux terwyl sy wys na hope slyk in haar erf. “En daar is toiletpapier stukkies oral. Weet jy hoe gaan ek sukkel om dit af te kry?” Tredoux wys na haar plaveisel en heining waar stukkies toiletpapier oral vassit.
“Ek het na die vorige riool weggesak het, gaan landbou-kalk koop en dit oral oor my gras gegooi om dit en my bome te red. En nou?,”
Tredoux trek haar skouers moedeloos op, “alles is weg met die riool. Ek sal weer kalk moet gaan koop en weer probeer.”
* Die JB Marks munisipaliteit se woordvoerder, Jeanette Tshite, het by navraag genoem dat uitdagings soos die voortslepende beurtkrag die rede vir hierdie probleem is.
“Om stortings hok te slaan, maak die instandhoudingspan van die munisipaliteit pompe reg indien en wanneer daar ‘n onklaarraking is. Die munisipaliteit oorweeg verdere opsies om ‘n langtermynoplossing te implementeer.”





