Mense laat hierdie sakevrou se hart sterk klop
“My ma was nog altyd vir my 'n baken van eerlikheid en opregtheid en my dogter, nou ja, as jy sou waag om vir haar te sê jy wil opgee, dan sal sy jou mooi verduidelik hoekom jy nie mag opgee nie!"
Die term “entrepreneur” is dalk ‘n nuwe term wat aan die inspirerende ma en besigheidsvrou, Pieta du Preez gekoppel kan word, maar soos mense haar ken, vat sy enige uitdagings volstoom aan.
Sy bewys dat dit nooit te laat is om iets te begin nie, nadat sy eers verlede jaar op 52-jarige ouderdom haar eerste besigheid begin het.
Sy noem haar besigheid “Saartjie” en is baie populêr onder Potchefstromers. Sy neem Shein-bestellings en bestel dit namens haar kliënte.
“Ek het lank die Shein ding uitgekyk en besef dit gaan groot word in Suid Afrika,” vertel Pieta.
“Ek het met my man, André, gesels en hy was baie opgewonde vir my, want hy weet ek wou al baie lank my eie ding doen!”

Saartjie bring vir hierdie vriendelike vrou baie geluk.
“Dit is vir my so lekker om die meisies se gesiggies te sien as hul, hul matriekafskeid- of dinee-rok kom afhaal en hul voel soos ‘n prinses daarin! Of net ‘n vrou wat besef sy kan twee bloesies teen die prys van een koop,” sê Pieta.
“Mense is wonderlike wesens. Die Here, my man, en my kinders bring vir my vreugde,” voer sy verder aan.
Die besigheidsgeen loop eintlik heel sterk in die familie – Pieta se dogter en beide skoondogters het ook hul eie besighede.
“Dit is so ‘n voorreg om sulke innoverende kinders te mag hê,” vertel Pieta.
“Ek is so trots op hul almal om te sien hoe blink elkeen uit in sy eie veld.”
Pieta se besigheid raak soms te veel vir een persoon, maar wanneer sy sien hoe hard haar kinders werk, gee dit haar moed om aan te gaan.
“My ma en my dogter inspireer my,” vertel sy.
“My ma was nog altyd vir my ‘n baken van eerlikheid en opregtheid en my dogter, nou ja, as jy sou waag om vir haar te sê jy wil opgee, dan sal sy jou mooi verduidelik hoekom jy nie mag opgee nie!”
Pieta oorkom uitdagings deur met haar man te gesels, en soms haar kinders ook.
“Ek is ‘n mens wat analiseer, so wanneer daardie “oemf” weer inskop sal ek vir myself ‘n prioriteitslys maak. Maar ek glo my grootste bate met uitdagings is my man. Hy is die mees opbouendste mens wat ek ken! Hy sal altyd vir my sê ek kan ‘n ding doen en staan altyd by my.”
Pieta is 6 Junie 1970 in Rustenburg gebore.
“My twee sussies en boetie is in Rhodesië (Zimbabwe) gebore, so ek spot hulle altyd en sê ek is eintlik die enigste Suid Afrikaner,” vertel Pieta.
Pieta het haar kinderjare sorgvry in Ermelo deurgebring.
“My ouers het na Nigel verhuis terwyl ek in die hoërskool was en ek het baie moeilik aangepas in die nuwe omgewing en skool,” vertel Pieta.
“Ek het met die verkeerde pelle gemeng en toe swanger geraak. Dit was baie moeilik vir my ouers, maar hulle het by my gestaan, my beskerm en gehelp en vandag is my ou seuna al 37 jaar oud”
Sy het ses maande na haar seun se geboorte by haar suster in Pretoria gaan bly en haar skoolloopbaan deur die Tegniese Kollege voltooi. Na skool het Pieta by Binnelandse Sake in Pretoria gewerk.
Sy het haar man, André, deur ‘n vriendin ontmoet. “Ek was halsoorkop verlief van dag een af,” lag sy.
“Gelukkig was hy ook.”
Pieta en Andre het ‘n paar keer opgebreek, maar liefde het hul altyd weer bymekaar laat uitkom en hulle het 6 Junie 1990 uiteindelik verloof geraak. Die paartjie is 3 November 1990 getroud.
André is ‘n predikant, en Pieta sê dat om predikantsvrou te wees, was vir haar een van die grootste uitdagings van die getroude lewe.
“Ons is in 1995 voltyds in die bediening opgeneem en ons eerste gemeente was in Sabie,” vertel sy.
“Wonderlike tye maar ook moeilike tye. Pastoorvrouens mag nie gewerk het nie en die finansies was min.”
Pieta vertel dat die eerste paar jaar moeilik was, maar dat sy uiteindelik besef het dat net God se opinie oor haar saak maak.
“Ons het in 2007 ‘n groot uitdaging aangevat en ons eie bediening in die Laeveld begin. My man het oral gaan preek in dorpe, onder andere Potchefstroom.
“Ons kinders het hier geswot en het ons besluit om ons hier te kom vestig toe my jongste seun met skool klaarmaak.
“Ons is omtrent ses jaar in Potch en het ‘n kerk genaamd Dinamiek waar ons ons liefde vir die Here en mense uitleef,” vertel sy.
Die Here en haar familie is Pieta se twee konstante in die lewe.
“Hou vas aan die Here wanneer dit swaar gaan,” sê Pieta.
“Omring jouself met mense wat in jou glo en glo in jouself. Weet dat God ‘n plan van voorspoed vir jou het.”



