Pitbull-saak uitgestel na September
Chandré van der Linde en haar lewensmaat, Marno Mostert, word beide aangekla ingevolge die Wet op Diereaangeleenthede.
Die saak rakende ‘n huishulp, Dipuo Kokolosi (48), wat deur pitbull-honde van ‘n Potchefstroomse paartjie op 25 Januarie 2022 verskeur is, is weer uitgestel.
Die staat het vir uitstel gevra omrede die aanklaer in die saak nog nie die dossier bestudeer het nie. Die oorspronklike voorverhoordatum was hierdie week, Dinsdag, 22 Augustus.
Die verrigtinge sal nou Maandag, 11 September voortgaan. Chandré van der Linde en haar lewensmaat, Marno Mostert, word beide aangekla ingevolge die Wet op Diereaangeleenthede. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle nalatig was.
Kokolosi, wat ten tye van die aanval hul huishulp was, se lewe is onherroeplik verander nadat sy ernstige beserings in die voorval opgedoen het.
Die honde het haar neus, lip, en oorskulpe afgeruk en ook ander dele van haar liggaam gebyt. Ziggy Abdullah, ‘n buurman van Van der Linde, het op daardie dag tot Kokolosi se redding gekom en uit selfverdediging die honde doodgeskiet nadat hy ‘n waarskuwingskoot afgevuur het.
Kokolosi moes na ‘n lang tyd in die hospitaal en herstel ook talle rekonstruktiewe operasies ondergaan en ervaar steeds emosionele trauma.
“My lewe is vernietig. Ek glo nie iemand sal my as ‘n huishulp in diens wil neem nie, want hulle sal bang wees vir hoe ek lyk. Dit het selfs vir my familie ‘n rukkie geneem om gewoond te raak aan die ‘nuwe ek. “Al wat ek wil hê, is geregtigheid vir wat met my gebeur het,” het sy in Januarie vanjaar aan die Herald gesê.
Van der Linde en Mostert se regsadviseur, Malan Schutte, het in Mei vanjaar aan die Herald bevestig dat sy klient se pitbull-honde op die dag van die voorval agter ‘n sekuriteitshek toegemaak was.



