Excelsior manskoshuis het Dinsdagaand, 22 Augustus, geskiedenis op die Fanie du Toit sportgronde gemaak.
Dit nadat hulle die onoorwonne verdedigende kampioene Caput in die eindstryd van die NWU Koshuisrugby eindstryd in ekstra tyd met 11 – 8 geklop het.
Dit is geskiedkundig omdat Excelsior verlede jaar nog in die Premierliga gespeel het en eers vanjaar na die Superliga opgeskuif het. Die eindstryd kon nie in normale tyd beslis word nie en moes na ekstra tyd toe gaan waar die eerste span wat punte aangeteken het as wenner uit die stryd sou tree. Op die aand was dit Excelsior wat met ‘n strafskop geslag het, om die trofee te lig. Volgens Henri van der Westhuizen, afrigter by Excelsior, kon daar nie ‘n beter eindstryd gespeel word nie. “Ons is ongelooflik trots op die spelers en koshuis as ‘n geheel wat ons heeltyd ondersteun het. Ons manne het regte varkhart gewys en hulle het vir die mense presies bewys hoekom ons in die final moes speel,” het ‘n ekstatiese Van der Westhuizen gesê. Caput sal voel hulle moes die wedstryd gewen het, nadat hulle die eindstryd onoorwonne ingegaan het. Ongelukkig kon hulle nie die kanse wat hulle gehad het in punte omskep nie. Volgens Henry Stewart, hoofafrigter van Caput, het sy span alle fasette, behalwe die telbord oorheers. “Dit was ‘n dominante vertoning sonder beloning. Caput het ‘n paar geleenthede om punte aan te teken verbrou en hulle momentum is gereeld gestuit deur wisselvallige besluite by die afbreekpunte. Geluk aan Excelsior met die wen. Hulle het nooit gaan lê nie en hulle verdediging het uiteindelik vir hulle die beker besorg. Op die dag was Caput dalk nie op hul heel beste nie maar hulle vat die verloor op die ken en kan nog steeds trots wees op ‘n skitterende seisoen. Rugby in Caput is sterk en gesond en die Rooikat sal in 2024 weer daar wees,” het Stewart gesê.Caput se tweede span het 21 – 10 in hulle eindstryd teen Overs gewen.



