Trompetter basuin sy liefde vir musiek
Wanneer meeste 18-jariges verkies om hulle talente op die sportvelde of agter die boeke te bewys, skryf Hoër Volkskool matrikulant en musikale virtuoos, Jan Brak, sy eie verwerkings en komposisies.
Wanneer meeste 18-jariges verkies om hulle talente op die sportvelde of agter die boeke te bewys, skryf Hoër Volkskool matrikulant en musikale virtuoos, Jan Brak, sy eie verwerkings en komposisies.
Jan se passie vir musiek kan gekenmerk word in sy uitstekende vernuf as trompetspeler, sowel as orrelis. By die Allegretto Eisteddfod behaal hy ‘n A++ vir trompet, en ‘n A+ vir kerkorrel.
Hierdie is twee van die moeiliker instrumente om te bespeel, maar Jan bewys keer op keer dat sy talent en aanvoeling vir musiek nie net hom prestasies laat inryg nie, maar ook aan mense se harte raak.
“Vir my is dit die belangrikste dat mense my musiek geniet daar waar ek optree. Mense laat my aanhou speel omdat hulle my ondersteun. Die mooiste deel van musiek maak is die waardering wat mense daarvoor het. Dit motiveer my,” noem Jan.
Dit was juis een van Jan se eie verwerkings wat hom ‘n A+ vir kerkorrel tydens die Eisteddfod besorg het. “Dit was my eie verwerking van “Kom dank nou almal God.” Ek hou daarvan om in my vrye verwerkings en komposisies te doen.”
Kyk hier hoe speel Jan Volkies se skoollied:
Jan speel ook Volkies se verwerkte skoollied op trompet saam met begeleiding in die skoolsaal elke Maandag, wat vir ‘n tikkie uniekheid sorg.
Die krag van musiek vloei uit Jan se are al van ‘n jong ouderdom af met sy familie se invloede wat sterk in sy DNS sit. “My ma, Marientha, het vandat ek onthou altyd klavier gespeel. Sy was ook ‘n orrelis by NG Grimbeekpark voor ek gebore is. Sy het ook my twee broers en sussie blokfluit geleer, net om die belangstelling te toets,” noem Jan.
Sy oom, Carlo Wright, het hom trompet geleer en dit is waar sy die liefde vir trompet gekweek is. “Ek het nog altyd hierdie passie vir trompet gehad. My ma (orrel) en oom (trompet) het baie saamgespeel. Ek voel mens gaan sekere klanke net uit ‘n trompet hoor. Dit is ‘n unieke instrument,” noem Jan.
Die uitdaging rondom trompet lê juis in konstante dissipline en oefening wat benodig word. “Die beheer van jou liggaam op die trompet is belangrik. Jy het jou diafragma nodig om te kan speel. Jy moet ook weet presies waar jou note sit en die presiese spanning van jou lippe en diafragma beïnvloed ook die note wat gespeel word,” verduidelik Jan.
“Orrel is nou weer ‘n heel ander aanslag. Ek het orrel as my hoofvak gevat laasjaar, al het ek toe net begin om lesse onder prof. Hetta Potgieter te neem. Ek hou van ‘n uitdaging,” sê Jan.
Die Rus, Sergei Nakariakov, is een van Jan se groot inspirasies op die trompet, terwyl Gert van Hoef en Martin Mans van sy gunsteling orreliste is.
“Ek is oor die algemeen ook baie lief vir (Piotr) Tchaikovsky se musiek, maar ek sal nie sê dat klassiek my gunsteling musikale genre is nie. Ek het ‘n groter aantrekkingskrag in filmmusiek soos Hans Zimmer, John Williams en Andrew Lloyd Webber se komposisies.”
Jan geniet juis die dramatiese aspekte van rolprentmusiek om met verskillende akkoorde rond te speel. Dit is juis hier waar hy inspirasie kry om sy kreatiwiteit vrye teuels te gee en sy eie musiek te komponeer en ander stukke te verwerk. Jan was deel van die Noordwes Jeugorkes en hy vertel dat hy veral baie leer my ander musikante.
“Dit is vir my so lekker om saam met mense op te tree en meer oor musiek by hulle te kan leer. As jy op die verhoog klim is die stres altyd daar. Jy moet daarmee saamleef, rustig asemhaal, ogies toeknyp en dit doen.”
In die toekoms sal Jan graag in ‘n filharmoniese orkes wil speel en ook wil orrels bou.
“Orrelbou handel daaroor om orrels te bou, te restoureer, onderhou, te stem en skoon te maak. Dit is iets waarna ek kyk volgende jaar,” vertel hierdie musikant, wat die Oude Kerk in Amsterdam se orrel as die mooiste een beskou wat hy al gesien het.
“As ek eendag die geleentheid kry sal ek bittergraag op daardie orrel wil speel.”