Local newsNewsNews

Student met groot hart sal gemis word

Familie en vriende het treffende boodskappe en gedigte vir Landré geskryf.

Landré Gustafson, ‘n 20-jarige student by die Noordwes-Universiteit, is Sondagoggend 3 September in ‘n tragiese motorongeluk oorlede slegs ʼn paar minute nadat hy sy gesin vir die laaste keer gesien het. Landré, ʼn oud-Gimmie, en sy gesin was vroeg Sondagoggend oppad huistoe waarna die ongeluk omstreeks 02:10 gebeur het.

Hy het vermoedelik beheer oor sy motor op die hoek van Meyerstraat en Thabo Mbeki-rylaan verloor en in ʼn boom vasgery.

Shiné Gustafson, Landré se suster, vertel dat hy alleen in sy kar vooruit gery het. Die res van die gesin het gestop om kos te koop, maar besef dat dit beurtkrag is en aangery.

“Ons was op pad huis toe, toe ons om die draai kom het die ongeluk reeds gebeur. Ons het geen idee wat werklik gebeur het nie, dit was ‘n groot skok.”

Landré laat sy ma Laetitia, suster Shiné , broer Arno, en pa Corné agter. Die gesin is gebroke en se dat hul hom baie sal mis.

“Landré het die grootste hart gehad en altyd om gegee vir ander. Hy was n groot rots in ons lewens, hy was altyd daar om te help. Hy het n babbelende persoonlikheid gehad en almal het hom so lief gehad. Hy was die beste boetie en seun wat mens kon voor gevra het. Ons as familie gaan hom baie mis, en sy voetspore sal nooit gevul kan word nie,” sê die gesin.

Landré was besig om Bcom Bestuursrekeningkunde te studeer. Hy het in Over de Voor Manskoshuis gebly waar hy baie gewild was. Philip Malan, Over de Voor se koshuisvader, sê dat Landré ‘n spesiale individu was.

“Hy was ‘n baie vriendelike en mededeelsame persoon wat ‘n positiewe invloed op die koshuis en sy mede studente gehad het. Hy het ‘n sterk persoonlikheid gehad in die koshuis en was altyd bereid om ander te help en ondersteun,” se Malan.
“Landré was ook ‘n liefdevolle vriend en ‘n persoon met ‘n groot gevoel vir humor. Hy het ‘n groot bydrae tot die koshuis se gesellige atmosfeer gemaak en het ‘n manier gehad om mense aan die lag te kry, selfs in moeilike tye. Hy sal gemis word, en ons sal altyd onthou hoe hy ons lewens met sy vriendelikheid, harde werk, en humor verryk het.”
“Liewe Lannas, my woorde min maar my hart is vol. Hoe groet ek jou? Kan nie glo jys weg nie, jys my forever and always bestie. Dankie vir alles,” sê Shiné.
“Daardie aand was soos n droom om so lekker met jou te kuier. Min het ons geweet dit was ons laaste. Gaan jubel en juig daarbo my liefste Lannas, kyk af na my want ek het nog altyd opgekyk na jou. Ek weet jys my guardian angel.”
Landré se lewensviering gaan Donderdag, 7 September om 11:00 in Duet Kruispunt Gemeente plaasvind. ‘n Lewendige uitsending sal beskikbaar wees.
“Ons as familie wil net baie dankie sê, eerstens aan ons ABBA Vader wat so amazing persoon vir ons geleen het vir 20 jaar en dan aan al ons familie en vriende asook die gemeenskap van Potchefstroom vir die ongelooflike ondersteuning, bystand in die moeilike tyd en ook aan Mooirivier Beskerming, ER24, SAPS en brandweerpersoneel,” sê die Gustafson-gesin.

Landre saam sy ma Laetitia, sussie Shine, broer Arno en pa Corne. Foto: Verskaf.

Familie en vriende het boodskappe en gedigte vir Landré geskryf

Hoe groet ‘n mens ‘n broer? Deur Arno Gustafson

Jy was nie net ‘n pel nie, jy was ons beskermer. Jy was daardie persoon wie se antwoord altyd “Ja” was. Twee uur die oggend of twee uur die middag, jy was daar. Jy het die grootste hart gehad, daar was plek vir almal by jou. Jy het nie net omgegee vir die om jou nie, jy het hulle embrace en joune gemaak. Daar is nie eintlik genoeg woorde om te beskryf wie jy was nie. Jy het vir ons ‘n nalatenskap gelos van wat ‘n ware vriend deur lig en donker is. Jou toughness sal ons altyd inspireer, jy kon uithou soos geen ander persoon nie. Die strate is stil sonder jou, die bome is vaal en ons harte is leeg. Jou lag was aansteeklik en jou drome groot. Dit is heeltemal te vroeg om jou te groet. Kan ons net nog een braai inwerk, asseblief my pel! Vanaand dans jy saam die engele en sit by ons Abba Vader se voete. Lannas jou plek gaan nooit gevul kan word nie. Vir nou moet ons jou eers groet en ons alles gee om jou diep spore te vul. Ek belowe ons sal jou trots maak my pel. Mag jy sag rus. Tot ons mekaar weer sien, hou die Hemelpoorte oop.

Bel net weer, deur Miah le Roux

Bel net weer

Ek le in my bed en kyk vir die Maan

Hys helderder vanaand –

Seker omdat die aarde donkerder is sonder jou.

Bel net weer –

Ek sal luister na jou deurmekaar vrae en growwe giggel keer op keer.

Bel net en vra of ek jou quiz kan skryf of watter handboek ons moet gebruik.

Bel net weer en hoor of jy hier kan kom leer – of is Hennies beter?

Spot my oor my ma en sing net nog een keer vir my ‘Stacy’s mom’.

Koop vir my net nog een keer dop sodat ek dit saam jou kan down en ek die keer die tab kan betaal.

Skel my weer oor my slegte drukkies en dat ek nooit meer saam kuier nie.

Doen net nog een keer saam my gemeenskapsdiens sodat ek vir almal kan vertel hoe mooi jou hart is.

Bel my net weer.

Ek wens, deur vriende

Ek wens ek kon jou nog een keer bel en se, “Net een bier by Musics.”

Ek wens ons kon nog een keer praat oor waar ons gaan wees eendag.

Ek wens ons kon nog ‘n laaste keer ‘n motiveringspraatjie inwerk.

Ek wens vir nog ‘n Sondagmiddagbraai by julle huis.

Ek wens dat ons nog ‘n laaste plaaskuier kon hou.

Ek wens ons kon nog ‘n laaste brandewyn saam drink.

Ek wens ek kon jou tenminste net groet.

‘n Boodskap deur Judeke Balt.

Lannas, ek wens jy kon my nog een keer spot of met my raas omdat ek te hard leer na jou sin. Ek wens jy kon my nog net een keer bel en oortuig om saam jou uit te gaan. Ek wens ons kon nog een laaste Sondagmiddagbraai hou en nog een keer kaarte speel, sodat jy weer die dealer kan wees en vir my kan se unlucky as ek verkeerd kies. Ek wens ek kon nog een keer saam jou ry na ‘n toets en nog een keer saam jou leer en ‘n bib-sessie inwerk waar jy meer gesels en na jou skootrekenaar staar as enigiets anders. Ek wens ons kon nog een toets skryf sodat jy vir my kan lag as jy beter doen as ek in ‘n toets waarvoor jy nie eers geleer het nie. Maar meer as dit als wens ek dat ek vir jou nog een laaste drukkie kon gee en vir jou kon se hoe lief ek vir jou is!

‘n Gedig, deur Anneke Balt.

Ons sal jou soek in elke sonsak

Op elke ster in die Hemel wens

Die reen sal kom en ons trane wegspoel

Jou glimlag is gegraveer.

Die aarde huil, die Hemel juig

Die mooiste engel bygekry.

Jou wedloop was dalk kort, jou nalatenskap is lank.

Jy het met ope arms, die breedste glimlag,

Volspoed in pappa Jesus se arms gehardloop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button