Potchefstromers skuur skouers met top sportlui by M.L. Fick se Manneaand
Laerskool M.L. Fick het op Vrydag, 8 September ‘n spesiale gas in hulle midde vir hulle Manneaand gehad met die UFC-gemengde gevegskuns atleet, Dricus du Plessis wat sy verhaal kom deel het.
Laerskool M.L. Fick het op Vrydag, 8 September ‘n spesiale gas in hulle midde vir hulle Manneaand gehad met die UFC-gemengde gevegskuns atleet, Dricus du Plessis wat sy verhaal kom deel het.
Du Plessis vlieg die Suid-Afrikaanse vlag hoog in hierdie sport en het die afgelope jaar naam gemaak toe hy talle top atlete op die hoogste vlak geklop het.
Foto’s: Wouter Pienaar
Du Plessis het die manne inspireer met sy lewensuitkyk en het ook waardevolle lesse gedeel vir toekomstige sportmanne in die gehoor rondom nederigheid, selfvertroue en wat dit verg om drome te bereik.
Pottie van Radio Raps se Chat ‘n Bietjie Ball-faam het die paneelbespreking op die aand gelei wat rondom rugby, sport en die rol wat professionele sportmanne en mans oor die algemeen in die samelewing speel. Die kundiges op die paneel saam met Du Plessis het Burger van der Westhuizen (NWU afrigter), Chris Dry (voormalige SA Sewesspeler) en Jacques Botes (voormalige Sharks rugbyspeler en huidige sportdirekteur van Potchefstroom Gimnasium) ingesluit.
Elkeen het ooreengestem dat harde werk, karakter, visie sowel as ‘n uitstekende houding ‘n groot rol speel om sukses te bereik en dat talent ‘n persoon net sover sal bring.
“Enige sport is groter as die speler self. Jy kan nooit dink dat jy groter as die sport is nie. Dit is passie om te wil beter wees. Een groot ding is om aanhou groot te droom. Sit die doelwit daar. Ek wou eerste net eenkeer op die televisie baklei. Toe word ek ʼn kampioen en dubbelkampioen en nou is ek nommer een in die wêreld,” het Du Plessis genoem tot luide applous van die manne in die gehoor.
Na die paneelbesprekings het die manne lekker saam met die sportlegendes gekuier, ‘n vleisie gebraai en die openingswedstryd van die 2023 Rugby Wêreldbeker tussen Nieu-Seeland en Frankryk geyk.






















