Video: Roekelose “spinning” op die Bult skep veiligheidsrisiko
'n Video is die afgelope naweek op sosiale media geplaas waar ‘n opgeboude spinning voertuig op die hoek van Steve Biko en Borcherdstrate sy bande op die teerpad brand en in sirkels rondjaag.
‘n Gebrek aan wetsgehoorsaamheid is in die kollig geplaas. Dit nadat ‘n bestuurder van ‘n motorvoertuig in die middel van Steve Bikostraat sy eie “spinning vertoning” vroeg Saterdagoggend (16 September) gehou het.
Daar is ‘n video op sosiale media gedeel waar hierdie motorvoertuig, ‘n opgeboude spinning voertuig met die handelsmerk “King Mokotedi”, op die hoek van Steve Biko en Borcherdstrate sy bande op die teerpad brand en in sirkels rondjaag. Rook trek ook deur die lug terwyl daar ‘n groot lawaai gemaak word. Daar is ‘n klein groepie mense wat die “vertoning” aanmoedig.
Dit het ongeveer vanaf 01:50 plaasgevind en vir ongeveer 12 minute geduur.
Johan Naude, bestuurder van Cachet Park CID, noem dat hy van die voorval bewus is en dat daar stappe teen die betrokke persoon geneem sal word.
“Ons sekuriteit doen wat hul kan om wetstoepassing te laat plaasvind. Dit gaan wel spanwerk verg van verskillende belanghebbendes en wetstoepassers om seker te maak dat hierdie voorvalle nie plaasvind nie. Hierdie soort wetteloosheid skep ‘n gevaarlike situasie,” verduidelik Naude.
Volgens hom is daar planne om belanghebbendes te laat koppe bymekaar sit sodat die Bult beter beveilig kan word.
“Daar is telkemale verdagte voertuie wat ook met vervalste nommerplate studente beroof, omdat misdadigers baie keer studente as ‘n maklike teiken sien. Ons kameras kan ook net soveel optel, maar ons het hande nodig om misdaad vas te vat. Dit is ook belangrik dat mense sake aan die polisie rapporteer,” voer Naude aan.
*Die Herald het navraag aan die eienaar van die motor gestuur, maar nog nie terugvoer ontvang nie.