Vat vyf, Marco Jansen!
Die oud-Gimmie en Protea veelsydige speler het vandag in die vyfde eendag wedstryd teen Australië op die Wanderers in Johannesburg met beide sy kolf en die wit bal geskitter om die Proteas na ‘n 3-2 eendag reekssege te neem.
Hy het 5/39 met die bal geneem en sodoende ook sy beste boulontleding in internasionale eendagkrieket behaal. Dit was beslis sy beste wedstryd in die groen en goud nadat hy met die kolf ook sy hoogste telling 47 (23) aangeteken het en net-net op ‘n eerste vyftigtal uitgemis het.
Suid-Afrika het 315/9 aangeteken voordat Australië vir 193 uitgeboul is en die Proteas ‘n 122 lopies oorwinning besorg het.
Jansen het die tradisionele wip en spoed van die Wanderers se kolfblad goed gebruik en meeste van sy paaltjies van korter balle geneem wat die Aussies nie kon baas raak nie.
Sy slagoffers sluit in David Warner, Josh Inglis, Mitchell Marsh, Marnus Labuschagne en Alex Carey.
Warner is vroeg op dekpunt uitgevang, Inglis het die bal teen sy paaltjies getrek, Marsh is op derde man uitgevang, terwyl Labuschagne op skerpby uitgevang is. Carey is danksy ‘n fenomenale vangskoot en duikslag van die atletiese Quinton de Kock agter die paaltjies uitgevang.
Jansen het ook met die kolf gewoeker en in sy beurt van 47 (23) het hy 4 viere en 3 sesse gemoker.
Na die wedstryd het Jansen genoem dat hy graag net sy beste wil gee om ‘n bydrae tot die Proteas se sukses te lewer.
“Dit is vir my belangrik om volgens die wedstrydsituasie die span te help. Dit is ongelooflik om vir die Proteas te speel en om voor tuisskare te speel, om dan paaltjies te neem gee my ekstra energie as ek boul.”
“Ek geniet dit meer om te kolf as te boul. Ek sit baie tyd in, in die nette. As ek kolf wil ek myself net geniet, terwyl as ek boul is dit harder werk. Daar word verwag dat ek paaltjies moet neem en dit is my primêre rol in die span, maar as ek geleentheid kry om te kolf wil ek ook lopies maak en myself uitdruk. As ‘n bouler kan ‘n mens altyd probeer om die kolfblad hard te tref en van daar af te werk. Met my lengte probeer ek dit so goed as moontlik tot my voordeel gebruik.
Hy noem ook dat sy kolfwerk verbeter het in terme van die opsies wat hy neem met verskillende houe.
“Dit voel of daar druk op my is om met die bal of kolf te presteer. Ek het die vaardighede, dit gaan net daaroor om die druk te hanteer en te weet hoe ek dit wil implementeer,” noem hy.
Die 2023 Krieket Wêreldbeker in Indië is ook om die draai met die Proteas wat hul eerste wedstryd teen Sri Lanka op 7 Oktober speel.
“As ons op die vliegtuig klim begin die realiteit eers inskop. Ek is baie opgewonde vir my eerste eendag Wêreldbeker. Dit gaan baie opwindend wees. Ek sien baie uit daarna,” noem Jansen.