ANC-manifesplakkate beskadig historiese eikebome
Die DA het ook ‘n brief aan die burgemeester, Gaba Ka Qhele geskryf en geëis dat die plakkate onmiddellik verwyder word.

Opposisiepartye in die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit is woedend nadat sowat 50 ANC plakkate teen die eikebome in ‘n gedeelte van die historiese Eikelaan vasgespyker is. Hierdie plakkate het die afgelope ANC-manifesgeleentheid geadverteer wat Saterdag, 16 September by Olënpark plaasgevind het.
Volgens DA raadslid, Hans-Jurie Moolman, is dit teenstrydig met die Wet op Nasionale Erfenis-hulpbronne, sowel as munisipale verordeninge. Volgens hierdie wet mag geen persoon ‘n erfenisgebied versteur sonder die nodige permitte nie. Indien die wet verontagsaam word kan ‘n boete of tronkstraf opgelê word.

“Die ANC in JB Marks het in sy desperaatheid om die leuens in sy verkiesingsmanifes te bevorder, die wêreldbekende nasionale en provinsiale Eikelaan-erfenisterrein in Potchefstroom ontsier deur sowat 50 manifesplakkate in hierdie eeu-oue eikebome te spyker,” noem Moolman.
Die DA het ook ‘n brief aan die burgemeester, Gaba Ka Qhele geskryf en geëis dat die plakkate onmiddellik verwyder word. Moolman het ook ‘n skrywe aan die Suid-Afrikaanse Erfenisowerheid gerig en die ANC gerapporteer. “Ons versoek ook ‘n gedetailleerde verslag oor die goedkeuringsprosesse wat gevolg is wat sy party, die ANC, toegelaat het om hierdie eikebome te ontsier,” sê Moolman.

Marlene Steyn du Toit, VF+ raadslid in die munisipaliteit stem saam dat daar nie verantwoordbaarheid in die ANC geledere is nie.
“Die skynbare minagting vir die breër Potchefstroom gemeenskap deur die beskadiging van ons historiese Eikelaan, belig ook die die kultuur van toeëining wat in ANC geledere heers.” Die Eikelaan is 15 April 1977 tot ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Tans is die Eikelaan ook ‘n Graad II Provinsiale Erfenisterrein ingevolge die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, Wet 25 van 1999.
* Die Herald het die ANC woordvoerder in Noordwes sowel as die munisipaliteit vir kommentaar genader, maar teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.