SportSport

Verdediging is NWU netbalster se natuurlike instink

Die NWU se blondekop verdediger, Sanmarie Visser, het met haar skitterende spel die 2023 Varsity Netbaltoernooi aan die brand gespeel.

Die NWU se blondekop verdediger, Sanmarie Visser, het met haar skitterende spel die 2023 Varsity Netbaltoernooi aan die brand gespeel. Opposisie spanne se doelgeleenthede het vinnig soos ys gesmelt wanneer Visser en haar spanmaats sonskynspel gelewer het.

Dit was geen verbasing toe sy as die Speler van die Toernooi aangewys is nie, nadat sy een van die NWU se top spelers tydens die toernooi was.

“Dit is vir my ‘n ongelooflike groot eer. Ek het nie genoeg woorde om te beskryf hoe baie dit vir my beteken nie. Dit is ń groot mylpaal vir my in my netballoopbaan en dit motiveer my om net nog harder te werk,” noem sy.

Al het die NWU in die half-eindstryd teen UJ uitgeval, was dit steeds ‘n toernooi vol positiewe herinneringe vir Visser.

“Ons het die toernooi sterk begin en naweek na naweek al hoe sterker geraak. Ons glo en vertrou dat God ‘n groter plan met ons het, en gaan dus nie dat die verloor in die semi-finale ons enigsins terughou om volgende jaar sterker terug te kom nie,” sê sy.

Volgens Visser is verdediging op die netbalbaan ‘n natuurlike instink, maar kan nie sonder haar spanmaats suksesvol uitgeoefen word nie.

“Dit is verseker nie ’n een-persoon werk nie. Ek het my “defensive unit” nodig om suksesvol te kan wees. Dit is ongelooflik belangrik om ń goeie verhouding met jou mede-verdedigers op die baan te hê. Ons as ‘n defensive unit op die baan kan dit nie bekostig om nie oor die weg te kom nie. Jou kommunikasie en dinamika onder mekaar moet so goed wees. Ons konneksie op die baan is dus van kardinale belang om suksesvol te kan wees,” vertel Visser.

Sanmarie Visser in aksie vir die NWU.
Foto: Catherine Kotze/Varsity Sports.

Hierdie Tweedejaar B.Com bemarking student noem dat haar rolmodel van kleins af die Protea-verdediger, Karla Pretorius, is.“Sy is net amazing in wat sy doen en dit motiveer my ook om beter te wil wees. My netbal is ‘n passie en liefde wat ek koester en wat my lewe op soveel maniere verryk het, al op ‘n jong ouderdom. Dit is nie net ń sport vir my nie, dit is ń lewenswyse,” beaam Visser.

Die unieke spandinamika, die samewerking, en die vreugde van saamwerk om ń gemeenskaplike doel te bereik is van die redes hoekom Visser graag netbal beoefen en nog groot hoogtes wil bereik.

“Dit is een van die lekkerste gevoelens om op daardie netbalbaan te stap saam met jou span en net jou hart uit te speel vir God en vir mekaar. Een van netbal se grootste voordele is ook die hartsvriendinne wat jy maak,” voer sy verder aan.

In die toekoms wil Visser in haar rolmodel, Karla Pretorius, se voetspore volg en ook die groen en goud oor haar kop trek.

“My grootste droom is definitief om vir die Proteas te kan uitdraf en my land te verteenwoordig.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button