Verdagtes breek bank se dak oop
‘n Groep van sewe verdagtes het vroeg Woensdagoggend, 27 September, toegang tot die perseel van Capitec Bank se kluis in die Ikageng Gate inkopiesentrum in Zinnstraat verkry.

‘n Groep van sewe verdagtes het vroeg Woensdagoggend, 27 September, toegang tot die perseel van Capitec Bank se kluis in die Ikageng Gate inkopiesentrum in Zinnstraat verkry.
Die verdagtes het na vermoede die dak bo die kluis van buite oopgesny en die plafon uitgebreek om toegang te verkry met die doel om die outomatiese tellermasjien (OTM) te bom. Drie wagte is ook vasgebind, maar dit is nog nie vasgestel of enige iets vermis is nie.
Volgens CB Security se operasionele bestuurder, Eldrick Jordaan, het daar teen 01:05 die oggend ‘n alarm afgegaan waarna reaksie na die toneel is. “Een van die sekuriteitswagte het kontak met ons reaksielede gemaak en genoem dat alles blykbaar reg is. Alles het toe in orde gelyk, maar ons reaksie kon nie toegang tot die dak kry nie,” verduidelik Jordaan.
Die vermoede is dat die verdagte die wag gedreig het om van die reaksie ontslae te raak terwyl die ander twee wagte alreeds vasgebind was. ‘n Paar ure later, teen 04:24 was CB Security, Mooirivier Beskerming en Ikageng polisie ook op die toneel.
Volgens Noordwes polisiewoordvoerder, kapt. Sam Tselanyane het die wagte langs Capitec Bank gepatrolleer toe hul drie gewapende mans gesien het.
“Die verdagtes het die wagte gedreig en die wagte met hul skoene se veters aan beide hul hande en voete vasgemaak,” noem Tselanyane verder.
Twee van die verdagtes het ook glo die wagte se uniforms gesteel en dit aangetrek.
“Na ‘n ruk het die sekuriteitsmaatskappyvoertuig by die hek gestop. Dit is toe wanneer die verdagtes die een wag losgemaak het en vir hom genoem het dat hy moet weghardloop. Hy het toe na die polisiestasie gehardloop,” noem Tselanyane.
“Dit is nog onduidelik hoe die verdagtes van die toneel gevlug het. Ondersoek duur voort.”