Gimmie-matrieks los voetspore met spesiale kuierarea
Die Gimmieraad van 2022, onder leiding van Martin van Onselen en Selma Kotzé, se droom om ‘n kuierplek vir huidige en toekomstige matrieks te bou, is nou ‘n realiteit.
Die Gimmieraad van 2022, onder leiding van Martin van Onselen en Selma Kotzé, se droom om ‘n kuierplek vir huidige en toekomstige matrieks te bou, is nou ‘n realiteit.
Hierdie area wat Potchefstroom Gimnasium tydens ‘n spesiale funksie Dinsdag, 19 September amptelik ingewy het, staan nou as Voetspoor bekend.
Die naam van hierdie kuierarea is na ‘n sorgvuldige proses gekies om klem te lê op die Gimmies wat voorheen die skool met trots verteenwoordig het, sowel as die Gimmies wat in die toekoms diep spore by hierdie skool gaan trap.
Die voormalige NWU Potch kampusrektor, prof. Fika Janse van Rensburg en prof. Heilna du Plooy (voormalige hoogleraar in Afrikaanse letterkunde aan die NWU) het saamgespan om die naam te kies.
Hierdie area was ook op ‘n tyd ‘n visdam, maar het nou ‘n behoorlike gedaantewisseling ondergaan, met twee gedenkmure wat opgerig is. Elke Gimmie-matriek van 2022 en 2023 se name is hier verewig. Die oud-Gimmie, Casper Botha (matrikulant in 1987) tesame met sy drie seuns, Jacques (2018), Philip (2020) en Rynhard Botha (2021) is die donateurs wat Voetspoor die lig laat sien het.
Potchefstroom Gimnasium se skoolhoof, mnr. Willie van der Merwe, verduidelik dat hierdie idee begin het as ‘n “no phone zone” waar matrieks net moes kuier en verhouding sonder hul fone bou .
“Daar was baie fyn beplanning betrokke. Ons het baie kundiges gehad wat ingespring het en dit is ongelooflik hoe goed alles verloop het. Wanneer ons hulp nodig gehad het, het niemand van die oud-Gimmies gehuiwer om te help nie. Daar is net ‘n groot liefde vir die skool,” sê Van der Merwe.
Van der Merwe het almal betrokke bedank vir hul insette om seker te maak dat Voetspoor vir komende Gimmies-matrieks ‘n plek sal wees waar hulle hul merk sal maak.
Op die Voetspoor-steen staan die volgende treffende boodskap wat die hart van hierdie projek opsom:
“Sedert 1907 het verskeie persone, die onderwysers, leerders en ouers diep spore by Gimmies getrap: onderwysers, leerders, ouers en die groter gemeenskap. Voetspore van oudmatrieks is oral op die skoolterrein en in die wêreld sigbaar. Hierdie is die kuierplek van huidige en toekomstige matrieks. Dit is elke matrikulant se verantwoordelikheid om navolgenswaardige spore op Gimmies se roete na uitnemendheid en vooruitgang te trap. Elke spoor is belangrik, want dit rig en lei die Gimmies van more. Streef deurgaans na diep en omvangryke spore, wetend dat jy nooit alleen sal wees nie – God is deel van elke tree wat jy gee. In dankbaarheid werk en hoop ons steeds meer: Fac et Spera!”