Local newsNewsNews

Hoerkind: ‘n Blik op die deursettingsvermoë van ‘n randfiguur

Sy lewenspad het baie afdraaie en heel dikwels ontrafel dinge. Die deurlopende tema bly die verhaal van een mens wat ten spyte van alles ‘aanhou beweeg en geraasmaak’, vorentoe, met groot sukses.

Die skrywerjoernalis Herman Lategan se blitsverkoper, Hoerkind: Die memoires van ‘n randeier, is deur die bekroonde akteur en teaterskepper, Margit Meyer-Rödenbeck in ‘n toneelstuk verwerk.

Hierdie eenmanstuk gaan vanjaar by Aardklop opgevoer word onder die regie van Meyer-Rödenbeck met die gerekende Geon Nel wat die hoofrol vertolk.

Geon Nel vertolk die rol van Herman Lategan,

Meyer-Rödenbeck is die regisseur van dié onthutsende boek en het ‘n sterk span byeengebring om as ‘n kreatiewe ensemble aan dié eenmanvertoning te werk.

Die titel Hoerkind verwys na die neerhalende kwetswoord wat aan hom as kind toegesnou was, omdat hy buite die eg gebore is. Hy skryf oor sy vroeë grootwordjare in kleurvolle losieshuise vol randeiers (buitestaanders) in Tamboerskloof.

Op ses moes hy na ‘n kinderhuis gaan omdat hulle in armoede geleef het. Later trou sy ma, sy stiefpa skiet op hom en probeer hom verkrag. Op 13 beland hy in die kloue van ‘n pedofiel, ‘n vooraanstaande Afrikaanse kunsjoernalis. Albei sy ouers word alkoholiste en sterf vroeg. Alkohol- en dwelmafhanklikheid ry hom ook. Op ‘n stadium slaap hy op straat.

Een aand word hy in sy woonstel gyselaar gehou en met ‘n mes gesteek. Hy verloor byna sy been in ‘n motorongeluk nadat hy op Mannetjies Roux se plaas gaan kuier het en was vir byna ‘n jaar buite aksie.

Sy foute is volop, maar hy leer soos hy voortbeur. Hierdie is nie ‘n verhaal van selfbejammering nie, dit een van val, opstaan, val en vorentoe beur, kop omhoog.

Geon Nel in Hoerkind. Foto: Gys Loubser

“In dié teaterstuk (van 75 minute lank) leer ken ons Herman as klein seuntjie wat met oorgawe leef, verknog is aan sy ma, maar dan maak omstandighede dit vir hom onmoontlik om by haar te bly,” sê Meyer-Rödenbeck

“Sy lewenspad het baie afdraaie en heel dikwels ontrafel dinge. Die deurlopende tema bly die verhaal van een mens wat ten spyte van alles ‘aanhou beweeg en geraasmaak’, vorentoe, met groot sukses. Hoerkind gaan jou bybly en omkrap, want dit is eerlik.”

*Vyf lesers kan kaartjies wen na Hoerkind by Aardklop deur die volgende vraag per e-pos te beantwoord:

*Watter akteur speel die hoofrol in Hoerkind?

Stuur die antwoord na wouter@mooivaal.co.za

 

Hoerkind:

Met: Geon Nel

Teks: Herman Lategan

Verwerking van teks: Francois Toerien

Regie: Margit Meyer-Rödenbeck

Assistentregisseur en verhoogbestuurder: Jeanne Steenkamp

Stelontwerp: Gerrit Snyman

Beligtingsontwerp: John B Swart

Komponis/Oorspronklike musiek: Coenraad Rall

Vervaardiger: Arena Produksiehuis

Moontlik gemaak deur: Suidoosterfees

Genre: Drama

Taal: Afrikaans

Tydsduur: 80 min.

Gradering: Geen o.18 (T/I)

Venue: Gimmies

Datum en tyd: 3 Okt 13:00, 5 Okt 20:00, 6 Okt 16:30, 7 Okt 13:00

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button