Munisipale gebou in Ventersdorp weens veiligheidsredes gesluit
“Dit is 'n skande dat hierdie eens trotse munisipaliteit nou deur 'n ander owerheidsinstelling verplig moet word om sy verantwoordelikhede teenoor sy inwoners en werknemers na te kom." = VF Plus raadslid, Pieter Steyn.
‘n Langdurige gebrek aan instandhouding van munisipale geboue in Ventersdorp het daartoe gelei dat die Departement van Arbeid hierdie geboue weens veiligheidsredes moes sluit.
‘n Verbodskennisgewing wat by die gebou in Van Tondersingel aangebring is, wys daarop dat hierdie gebou werknemers in ‘n veiligheidsrisiko plaas. Vryheidsfront Plus raadslid in Ventersdorp, Pieter Steyn verduidelik dat die gebou se dak tot so ‘n mate verval het dat die plafonne weens waterskade begin meegee het.
“Die hele gebou is in ‘n vervalle toestand, ten spyte van die VF Plus en gemeenskapslede se herhaalde waarskuwings,” noem Steyn.
Die munisipale raad het ook reeds in Maart vanjaar R7 miljoen bewillig vir die dringende herstel van die munisipale geboue in Ventersdorp. Daar is volgens Steyn nog geen fondse vir die herstel van hierdie geboue aangewend nie.
“Die VF Plus het dit ook tydens die raadsvergadering in Maart duidelik gestel dat daar gefokus moet word op die dringende herstel van die geboue en dat enige onnodige uitgawes soos die huur van alternatiewe akkommodasie op verdere wanbesteding van inwoners se geld sal neerkom,” noem Steyn.
“Dit is ‘n skande dat hierdie eens trotse munisipaliteit nou deur ‘n ander owerheidsinstelling verplig moet word om sy verantwoordelikhede teenoor sy inwoners en werknemers na te kom,” meen Steyn.
Munisipale woordvoerder, Jeanette Tshite, het by navraag gesê dat die munisipaliteit van die sluiting van die kantore weens veiligheidsredes bewus is.
“Behoorlike prosesse vir die munisipaliteit om geaffekteerde kantore te herstel wat die raadsaal insluit, moes gevolg word, vandaar die vertraging. Die herstelproses is in ‘n gevorderde stadium. Sodra die kantore herstel is, sal dit weer vir werkdoeleindes gebruik word,” noem sy.