Local newsNewsNews

Mixtape van die liefde verhef digkuns met manjifieke melodieë

Stemme van uiteenlopende Suid-Afrikaanse digters word in hierdie produksie met musiek opgehef in ‘n meesterlike toonsetting vol emosie wat die krag van liefde in al sy fasette uitbeeld.

‘n Kombinasie van ikoniese Afrikaanse digkuns word met meesterlike melodieë en sang in “Mixtape van die liefde” op ‘n indrukwekkende wyse uitgebeeld.

Hierdie musiekteaterproduksie wat op Donderdag, 5 Oktober in die Totius Saal vir die eerste keer in Potchefstroom verskyn het, het die gehoor in vervoering van die eerste noot tot die laaste gedig gehad.

“Mixtape van die liefde” is gebaseer op die gelyknamige digbundel wat Antjie Krog in 2022 saamgestel het.

Stemme van uiteenlopende Suid-Afrikaanse digters word in hierdie produksie met musiek opgehef in ‘n meesterlike toonsetting vol emosie wat die krag van liefde in al sy fasette uitbeeld.

Mixtape van die Liefde is Musiekteater op sy beste. Hier is Anna Davel, Leon Gropp en Jana Cilliers.

Van die eerste noot en woorde van Breyten Breytenbach se “Allerliefste, Ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif” wat Anna Davel (wat ook die teks en regie behartig) met haar fluweelstem opvoer, weet die gehoor iets spesiaal is aan die gebeur.

Ander treffende verwerkings sluit in Leon Gropp se kitaarwerk en sang in “Sproeireen” van DJ Opperman, Mathys Roets se opvoering van “Voshaarnooi” (Louis van Rensburg) sowel as Stephanie Baartman se vertolking van “Bitterbessie Dagbreek” deur Ingrid Jonker.

Johny Klein en Baartman lewer ook fantastiese monoloë wat Kaapse Afrikaans ook in die kollig plaas en sodoende skep dit ook ‘n paar komiese hoogtepunte.

Nog ‘n hoogtepunt wat ook luide applous ontvang het, was ‘n roerende vertolking van “Rietfontein se Leidam” deur Jana Cilliers en Davel.

Laurinda Hofmeyr se klavierspel en Gropp se kitaarwerk is ook van uitstekende gehalte en bring deurlopend die digwerk in ‘n nuwe lig.

Feesgangers wat van teater, digkuns, musiek en die lewe hou moet nie hierdie uitmuntende produksie misloop nie.

65 minute se tydsduur is hopeloos te min, want ‘n mens kon nog ‘n hele uur na hierdie kunstenaars geluister het.

Daar is nog twee vertoning by Aardklop in die Totius Saal. Vrydag, 6 Oktober om 16:00 en Saterdag, 7 Oktober om 10:00.

Kaartjies is hier beskikbaar op Ticketpros.

Met: Jana Cilliers, Mathys Roets, Laurinda Hofmeyr, Leon Gropp, Stephanie Baartman, Anna Davel, Johny Klein
Teks:
 Anna Davel, na die gelyknamige bundel, saamgestel deur Antjie Krog
Regie:
 Anna Davel
Musiekregie:
 Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp
Verhoogbestuurder:
 Nastassja Pretorius
Vervaardiger:
 Alexa Strachan vir Momentum Beleggings Aardklop
Moontlik gemaak deur:
 NATi

Genre: Musiekteater
Taal: 
Afrikaans
Gradering: 
Ouerbegeleiding, geen o.12 (I)
Tydsduur: 
65 min.
Venue:
 Totius Saal
Datum en tyd:
 6 Okt 16:00, 7 Okt 10:00
Kaartjies:
 R200, R180 (Aardklop Hartsvriende, Pensioenarisse)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button