Local newsNewsNews

‘n Akkerboom: ‘n Onvoorspelbare toneelreis wat emosies prikkel

Teatergangers wat graag iets nuuts wil beleef en op 'n buitengewone manier vermaak wil word sal definitief die waarde uit "'n Akkerboom" benut.

Eksperimenteel, onkonvensioneel en so tikkie absurd is maniere om “‘n Akkerboom” te beskryf wat by Aardklop 2023 deur De Klerk Oelofse en ‘n onbekende gasspeler opgevoer word.

Die konsep van ” ‘n Akkerboom” (teks deur Nico Scheepers) is dat Oelofse die toneel saam met ‘n akteur of aktrise moet opvoer wat geen benul het wat die teks is nie.

Oelofse weet ook nie wie saam met hom die toneel opvoer nie.

By die debuutopvoering op Woensdag, 4 Oktober, het Oelofse ‘n koevert oopgemaak om sy medespeler te onthul. Dit was toe niemand anders as die bekroonde aktrise, Rolanda Marais, nie.

Vir die hele toneelstuk lei Oelofse haar, maar gee ook genoeg ruimte vir improvisasie.

Die interessante aspek van “‘n Akkerboom” lê in die uitbeeldings van diep temas soos verlies, die dood, en angs onder andere.

Dit word saamgebind in verskeie tonele wat “gespeel” word. Hede, verlede en toekoms word vervleg in ‘n hipnotiese driehoek. ‘n Tipe Metastorie waar werklikheid en die krag van woorde op unieke maniere gekonfronteer word.

Die kyker moet gereeld ook kophou, want nie net word daar met denkbeeldige karakters gepraat nie, maar daar word ook met die gehoor gekommunikeer terwyl Marais as gasspeler deur soms absurde, dramatiese en komiese tonele gelei word.

‘n Goeie voorbeeld is hoe Oelofse verskeie tekste met sy gas hanteer en dan skielik uit die bloute besluit om na ‘n volgende toneel te beweeg.

Oelofse is op en wakker en vra die kyker om sy leiding te volg – die vraag is maak alles altyd sin en moet alles van A na B gaan?

Teatergangers wat graag iets nuuts wil beleef en op ‘n buitengewone manier vermaak wil word sal definitief die waarde uit “‘n Akkerboom” benut.

Die volgende en laaste vertoning vind op Vrydag, 6 Oktober om 20:00 by Girls High plaas. Hierdie keer is daar  ʼn nuwe akteur/aktrise saam met wie Oelofse gaan toneel speel

 Met: De Klerk Oelofse en ’n gasspeler met elke vertoning
Teks: Nico Scheepers
Genre: Drama
Taal: Afrikaans
Tydsduur: 65 min.
Gradering:  Geen o.16 (T/I)
Venue: Girls High
Datum en tyd: 6 Okt 20:00
Kaartjies: R180, R160 (Aardklop Hartsvriende)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button