Local newsNewsNews

Baillie skuif sy berg

“Nothing is impossible. The word itself says ‘I’m Possible,” sê Bendré Hendrikse, ‘n Gr. 7 leerder in Laerskool Baillie Park.

Bendré Hendrikse, ‘n Gr. 7 leerder in Laerskool Baillie Park, is in November 2020 gediagnoseer met Leukemia.

Annemarie Hendrikse, Bendré se ma, sê dat hy dadelik met behandeling begin het, en binne twee weke in remissie was. “Dit is ‘n absolute wonderwerk. In die Leukemia-groep wat saam hom behandeling ontvang het, is hy een van twee wat oorleef het.”

Bendré ontvang behandeling by die Universitas Netcare hospitaal in Bloemfontein, en Annemarie sê dit was ‘n baie moeilike tyd vir hul gesin. “Ek het in Bloemfontein by familie gebly, maar sy pa moes elke naweek deurry Bloem toe om hom te sien. Ons het ‘n besigheid in Potchefstroom en kon nie net alles los nie.”

Annemarie en Bendré. Annemarie getuig dat God Bendré en hul gesin deur alles gedra het.

Die Hendrikse het ‘n nege-jarige dogtertjie was in Julie 2020 gediagnoseer met diabetes, en Bendré se diagnose was ‘n dubbele aanslag.

Bendré moet vir drie jaar behandeling ontvang om Leukemia se terugkeer te verhoed. Sy laaste behandeling vind 27 November plaas, en Bendré sien baie daarna uit. Voor Leukemia was Bendré ‘n aktiewe kind wat tennis gespeel het. Nou is hy bleek en skugter, en moes sy raket vir Boogskiet omruil.

Die terugkeer van hospitaal na skool was vir Bendré baie moeilik. “Baillie Park se onderwysers was wonderlik,” sê Annemarie. “Terwyl hy in die hospitaal was het hulle al sy werk aangestuur sodat hy nie agter raak nie. Voor hy teruggegaan het skooltoe, het hulle baie mooi met die leerders gesels om te verhoed dat Bendré gespot word, maar dit het nie gehelp nie.” Met trane in haar oë vertel Annemarie dat die kinders Bendré vreeslik geboelie het en nie meer met hom wou vriende wees nie. “Die kinders het gesê kanker is aansteeklik en wou nie naby hom kom nie. Hy het op die oomblik net twee maatjies waarvan ek weet.”

Bendré vertel dat hy volgende jaar Hoërskool Ferdinand Postma toe gaan, en dat hy uitsien vir ‘n nuwe begin. Hy sê verder dat hy graag gholf sal wil speel wanneer hy herstel het, en glimlag skaam.

Hy sien uit vir die pad vorentoe, en sal graag ‘n motiverende spreker wil word. Ma Annemarie vertel dat Bendré tydens sy behandeling in die hospitaal vriende ondersteun het wat ook deur behandeling gaan.

“Nothing is impossible. The word itself says ‘I’m Possible,” sê Bendré.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button