Die eerste Izintaba Gimmies Krieketfees wat van 6-9 Oktober in Potchefstroom plaasgevind het, was ‘n dawerende sukses waar krieket as die groot wenner bestempel is.
Hierdie witbal kriekettoernooi, wat die grootste van sy soort in Suid-Afrika is, het vir 18 skole die geleentheid gegee om teen mekaar kragte te meet in 36 wedstryde. Gimmies as gasheer het ‘n puik toernooi beleef en drie uit hul vier wedstryde gewen.
Foto’s: Wouter Pienaar
Gimmies het Hoërskool Marais Viljoen van Alberton met 5 lopies in die openingswedstryd geklop, en het met ‘n 254-lopie oorwinning teen Helpmekaarkollege sowel as ‘n 44-lopie sege teen Northwood van die Gimmie Oval afgestap. Gimnasium se enigste nederlaag was teen Hoerskool Durbanville wat hul met 35 lopies verloor het.
Tommie Botha was die voorste lopiemaker vir Gimmies met 163 lopies agter sy blad. Botha het 51 teen Marais Viljoen aangeteken sowel as 4/40 met sy draaiballe gevat. Teen Helpmekaar slaan hy ook 60 in sy span se reuse 408 almal uit.
Ewald Kruger moker 98 (49 balle) wat 10 viere en 6 sesse insluit om die kersie op Gimmies se koek te sit. Gimmies se kaptein, Marnu Cronjé, neem 8 paaltjies in die toernooi en teken 147 lopies aan.
Wian Lubbe, organiseerder van die Gimmies Krieketfees noem dat hulle reeds uitsien na volgende jaar waar die plan is om die toernooi na 24 skole te vergroot.
“Ons wou skole van die kus die geleentheid gee om teen skole van die binneland te speel en so die geleentheid kry om hulle skool se krieket te groei. Ek wil graag al ons borge bedank asook ons hoofborg Izintaba wat die fees moontlik gemaak het en vir die seuns die geleentheid gegee het om vriendskappe te bou op en vanaf die velde. Ons visie is om skole van regoor die land te kry om vriendskappe te bou en ook die geleentheid te gee om ons dorp hier in Potchefstroom te besoek en te ondersteun. Daar is geen wenner by die krieketfees nie. Die enigste wenner is krieket wat geniet word,” stel Lubbe.



















