Jong mense op Bult se strate word geteiken
Die grootste konsentrasie van selfoondiefstal en rowe vind in Steve Bikostraat plaas met ander gevalle wat dan uitsprei na Meyerstraat en ander omliggende strate op die Bult.
Selfoondiefstal en rowe is twee toenemende vorme van misdaad op die Bult waar studente en jong mense veral op straat geteiken word.
Volgens Johan Naude, bestuurder van die Cachet Park CID, is daar statistiese bewyse van gerapporteerde voorvalle rakende hierdie tipes misdade vanjaar.
“Al is selfoondiestal en rooftogte nie die hoogste aantal insidente nie (ongelukke is die hoogste in 2023), kan daar gesien word dat daar oor die algemeen meer fone en elektroniese toestelle soos skootrekenaars gesteel word,” vertel Naude.
In September vanjaar is daar 76 insidente gerapporteer, 16 daarvan was roof op straat. In September 2022 was daar maar 24 insidente in geheel.
Naude glo dat daar verskeie redes hiervoor is. Eerstens is daar meer studente op die Bult as voorheen toe die Cachet Park CID gestig is.
Tweedens, het baie studente nie vervoer nie en moet baie keer te voet met hulle elektroniese besittings beweeg. Sodoende word hul makliker slagoffers van misdaad.

“Die tipe misdadigers het ook verander sedert die Cachet Park CID gestig is. Voorheen was straatkinders en geleentheidsmisdadigers ‘n groot probleem.
Dit het nou verander na misdadigers wat weet waarna hul op soek is en misdade vooruit beplan,” verduidelik Naude.
Die grootste konsentrasie van selfoondiefstal en rowe vind in Steve Bikostraat plaas met ander gevalle wat dan uitsprei na Meyerstraat en ander omliggende strate op die Bult.

Baie van die misdade vind ook plaas buite die CCTV-kameras se dekking of tydens beurtkrag wanneer die kameras dan van lyn af is. “Ons het bystand op sekere plekke en opgradeer van tyd tot tyd van die kamerastasies.”
Naude het wel die polisie se rol geloof om seker te maak dat straatligte op die Bult ook funksioneer.
“Baie studente loop laat in die aande alleen rond en dit is waar van die misdadigers geleenthede sien. Dit is ook so dat van die studente ook ingedoen word deur swendelaars wat deur middel van geloof mese se besittings steel.”
Daar is ook baie suksesverhale waar misdadigers wel vasgekeer word en Naude noem dat Mooirivier Beskerming alles moontlik doen om misdaad hok te slaan.
“Die probleem is wel dat ons meer voete op die grond nodig het. Vir dit om te gebeur sal ons meer finansiele steun benodig of ons hulpbronne op ‘n ander manier aanwend,” vertel Naude.



