Kabouter-Woud maak hulle hekke en harte oop
Binne ‘n uur was al die items weg met klere wat deur verskeie instansies kom haal is.
Kabouter-Woud Kleuterskool het onlangs met ‘n unieke gemeenskapsprojek bygedra om die nood in hulle omliggende omgewing te verlig.
Die doel van hierdie projek was om klere en benodighede in te samel wat dan op ‘n spesifieke dag (25 Augustus) by die kleuterskool vir die gemeenskap beskikbaar was.
Binne ‘n uur was al die items weg met klere wat deur verskeie instansies kom haal is. Daar is ook heerlike groentesop bedien om honger kolle in verskeie mense se mae te vul.
“Ons het veral gefokus op kinderklere met die insameling. Die kinders wat swaar kry lê ons naby aan die hart. Die leerders van Kabouter-Woud was so opgewonde toe hulle sien dat al die klere wat hulle ingesamel het in ‘n uur gevat is,” noem Laumé Crous, hoof van Kabouter-Woud Kleuterskool.





