Local newsNewsNews

Dienssentrum groet Wendri Eloff

Wendri Eloff, direkteur van die Potchefstroomse Dienssentrum vir Bejaardes, tree af na 40 jaar.

As daar een mens in Potchefstroom is wat gesorg het dat die stad anders lyk as voor sy op die toneel verskyn het, is dit Wendri Eloff. Sy tree aan die einde van Oktober 2023 af as direkteur van die Potchefstroomse Dienssentrum vir Bejaardes na ’n dienstydperk van 40 jaar.

Sy is ’n huishoudelike naam in Potchefstroom, maar verseker nie iemand wat roem soek nie.

Aan die begin van 1981 is Wendri Oosthuizen (later Eloff) as die eerste organiseerder vir blanke dienste by die Studente Gemeenskapsdiens aangestel. Dié studenteorganisasie op die kampus van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) het hom beywer vir diens aan die gemeenskap. Later het dit SJGD geword en bestaan nog steeds op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit.

Sy was ’n plaaskind en het grootgeword in die Vryburg-distrik. Wendri het ’n HOD met ekonomiese wetenskapsvakke aan die PU vir CHO verwerf. Syd Eckley, dosent in Maatskaplike Werk, het Wendri uitgenooi om ’n toer na Stellenbosch mee te maak om meer te wete te kom van die werksaamhede van dié universiteit se gemeenskapsdiens en sy is geïnspireer.

Die jaar 1982 was die Internasionale Jaar vir Ouer Persone en die stadsraad het ’n funksie vir senior burgers in die ou stadsaal aangebied het.

As uitvloeisel daaruit word die eerste byeenkoms van die Mooirivierklub vir Bejaardes op 2 Augustus 1982 is die in die saal van die Metodistekerk gehou. Dié dag was ’n Dinsdag en sedertdien vind daar vir die afgelope 41 jaar steeds ’n byeenkoms van die Mooirivierklub op Dinsdae plaas. Dit was nou behalwe tydens die Covid-tyd, toe die Dienssentrum vindingryk ander planne gemaak het.

Wendri onthou dat hulle in die beginjare met Kombi’s die bejaardes gaan oplaai het. “Ons was jong studentjies en dan ‘Tannie’ jy die mense. Een ‘tannie’ was nie daarvoor te vinde nie en sy reageer gesteurd: ‘Ek is nie tannie nie, ek is Doktor Brink!’ Ons het gedink die bejaardes is nors en stuurs, maar het voortgegaan.”

Die Potchefstroomse Raad vir Bejaardes is op 11 Augustus 1982 gestig en die Potchefstroomse Dienssentrum se deure het op 1 Oktober 1983 op die hoek van Kamp- en Bothastraat geopen. Die amptelike opening was op 3 November 1983. SGD het Wendri vir ’n jaar gesekondeer om die Dienssentrum te vestig.

Op 4 Oktober 2023 het die Dienssentrum vir Bejaardes hulle veertigste bestaansjaar gevier. In samewerking met Aardklop is ’n produksie in die NG Kerk, Miederpark aangebied.

Ironies genoeg, veral na Wendri die bejaardes van 40 jaar gelede as nors beleef het, was die tema “Vrolike 40 jaar na 60 met Jakkie Louw”. Die eerste helfte van die program het die bedrywighede van die Mooirivierklub vir Bejaardes uitgebeeld. Daarna het Jakkie Louw opgetree. Die Dienssentrum onder Wendri se leiding het beslis ’n groot rol gespeel om vandag se bejaardes meer “vrolik” te maak as dié van destyds.

Wendri kan terugkyk op 40 jaar se groot sukses, wat weerspieël word in die toekennings wat sy ontvang het. Die Rotary Stigting het haar benoem as ’n Paul Harris Fellow. In 2001 was sy ’n finalis in die Dinamiese Vrou 2001-kompetisie, wat deur die Potchefstroom en Carletonville Herald, Sanlam en Vodacom aangebied is. In 2011 het Overvaal Stereo vir haar die toekenning as Dame van die Jaar gegee vir haar uitstaande diens aan bejaardesorg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button