Local newsNewsNews

Egpaar glimlag weer na huisbrand

Jacobus Vermaak was in die huis toe die brand ontstaan het.

‘n Meenthuis in Sunnyview, Hattignhstraat Bailliepark het 24 Oktober afgebrand.

Nedine en Jacobus Vermaak was woonagtig in die huis en het alles in die brand verloor.

“Ek was besig om ‘n tas te pak om Pretoria toe te ry vir werk toe ek ‘n swart bol rook vanaf die spaarkamer in die gang in sien kom,” vertel Jacobus. “Dit was die vreemdste ding. Ek kon glad nie die vlamme hoor brand nie en ek het niks geruik nie.”

Jacobus vertel verder dat hy die brand met hul tuinslang probeer blus het, maar dat daar nie water was nie. In die proses om die vuur te blus het Jacobus tweedegraadse brandwonde op sy linkerhand opgedoen. “Ek het dit nie eers besef of gevoel nie. Mense het vir my gesê, ‘Wow, kyk hoe lyk jou hand’,” sê Johan verder.

Nedine was by die werk in ‘n vergadering toe Jacobus die vuur ontdek het. “Hy het my ses keer gebel en ek het elke keer die foon doodgedruk. Na die vergadering het ek hom teruggebel en hy het gesê die huis brand af,” vertel Nedine. “Ek het vir hom gesê ‘Wat bedoel jy die huis brand af?’ Dit het net nie vir my sin gemaak nie.”

Die huis het heeltemal afgebrand.

Nedine noem dat dit baie erg was om huis toe te ry en te weet dat die rookbol in die lug jou huis is wat brand.

Die egpaar het nie troeteldiere gehad nie, maar wel ‘n Appelkoosboom waaroor hul hartseer is. “Dit het net twee vruggies begin vorm,” vertel Nedine. “Nou kan ons konfyt maak,” las Jacobus laggend by.

Nedine vertel dat hul na die brand deur die rommel gaan soek het vir goed wat dalk nie in die brand beskadig was nie. “Ek het my Bybel gekry,” vertel sy met ‘n glimlag, “dit was glad nie beskadig deur die brand nie.”

Die egpaar bly tans in ‘n kollega se woonstel en wil Potchefstroom bedank. “Ons kan nie glo hoe baie mense gehelp het nie, ons het so baie donasies gekry,” vertel Nedine. “Mense het vir ons betaal wanener ons gaan eet het,” las Jacobus by.

“Dis so mooi om te sien hoe die dorp bymekaar gekom het en ons in ons nood ondersteun het,” sê Nedine. “Dit was ongelooflik, as ek op my foon gekyk het sien ek net nog donasies het ingekom.” Nedine vertel dat hul soveel skenkings van mense af gekry het, dat hul vir die inwoners wat in die Rivierstraat huisbrand betrokke is goed kon gee.

Die egpaar dra mekaar emosioneel deur die situasie. “Een oomblik is jy okay, en die volgende oomblik vang dit jou weer,” sê Jacobus. “Ek is bly ons het mekaar, dit maak dit makliker,” las Nedine by. “As die brand twee ure vroeër begin het sou ons nog geslaap het. Ons het baie om voor dankbaar te wees.”

“Ons gaan nou rookverklikkers en brandblussers aankoop,” sluit die egpaar laggend af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button