Student het omgee-hart vir gestremdes
Liefde en omgee het hand aan hand geloop in Danièlle Iris Hughes se Perdry-projek.
Danièlle Iris Hughes, ‘n derde-jaar student by die Noord-Wes Universiteit, het weereens bewys dat liefde en omgee die grootste verskil in kinders se lewens maak.
Die NWU het ‘n nie-winsgewende organisasie genaamd SJGD wat deur die KSR bestuur word. SJGD het verskeie gemeenskapsprojekte wat deur studente bestuur en uitgevoer word.
Danièlle het vanjaar die Perdry-projek bestuur. “Die leerders van ES Le Grange Skool leer om perd te ry by Ros’Amo Perdryskool en Venue,” vertel Danièlle. “It’s a huge responsibility, dit het ‘n groot impak om die kinders se lewens,” merk Danièlle op. Die Ros’Amo perde wat gebruik is in die projek se name is Grace en Ferrero. “Hulle is baie rustige perde en het baie mooi met die kinders gewerk.”

Die Perdry-Projek kon nie dadelik afskop nie, aangesien daar vir toestemming vanaf die Departement van Onderwys gewag was. Danièlle het die tyd gebruik om verhoudings te bou met die ES Le Grange-leerders. “Ek het met hulle speletjies gespeel gebasseer op die sillabus,” vertel Danièlle. “Hulle het geleer om my te vertrou en dit het gehelp dat hulle die perde vertrou.”
“Ek het navorsing gaan doen oor perd-terapie, want voor die projek het ek eintlik niks van perde geweet nie. ‘n Perd se huid is kalmerend vir kinders. Baie van die kinders is mute, en perdry is wonderlik vir hulle omdat die perde reaggeer op wat die kinders voel. Dit gee die kinders selfvertroue wat dan oorspoel in ander aspekte van hul lewens.” Danièlle verduidelik verder dat perdry spiere stimuleer wat nodig is vir groot motoriese bewegings. Gestremde kinders gebruik nie hierdie spiere nie, en die perdry help hul dan om dit te ontwikkel.

“Kinders en perde het my baie oor myself en Jesus geleer,” vertel Danièlle met ‘n glimlag. “Veel meer as wat ek hulle ooit sou kon leer.”
“Ek het eers aansoek gedoen vir die Potch-Hospitaal Projek,” vertel Danièlle. “Jy besoek die kindersale by die hospitaal. Dis kinders wat nog baie klein is wat alle vorms van mishandeling ervaar het.” Empatie is ‘n sterk karakter-trek in Danièlle; sy het besef dat sy na elke besoek aan die hospitaal al die pad huistoe sou huil. “Ek het toe die Perdry-projek gekry, en ek sou dit nie anders wou hê nie,” Danièlle glimlag en sê verder, “Hulle (ES Le Grange-leerders) is my alles. My termyn het drie maande terug reeds geëindig but I just don’t want to go. Ek eindig net nie my projek nie.”
Danièlle het ‘n laaste wens voor sy haar projek eindig, en dit is om ‘n nuwe paveljoen by Ros Amos Ryskool te laat opsit. “Die paveljoen is stukkend,” vertel Danièlle. “Die kinders se voete val deur en hul skrik en kry seer.” ES Le grange-leerders het skilderye van perde gemaak wat hul teen R 50 ‘n skildery wil verkoop om geld in te samel vir ‘n nuwe paveljoen. “As mense geld wil skenk sal dit so baie waardeer word,” sê Danièlle.

Danièlle kan by 073 314 9902 bereik word om ‘n skildery te koop of geld te skenk vir ‘n nuwe paveljoen.



