Local newsNewsNews

Uit Piet se Pen: Stilte in die hof

"So breek die hofdatum aan op ‘n koue wintersoggend by die hofsaal in Parys. Ek en nog ‘n paar beskuldiges staan so in die flou wintersonnetjie en wag ons lot af."

Ons sit weer die laatmiddag daar in ons gunsteling laatmiddag kuierplek, dis nou ek en ander Piet en Hennie en ons vat so vir die afskop ‘n Hanepootjie, soos hulle ook in Sewende Laan doen. Wonderlik hoe die soetwyntjie die winterkoue kan afskrik.

Ons sit nog so toe kom daar ‘n netjiese man met ‘n suit en so ‘n vet boeksak ingestap. Soek seker ook ietsie teen die koue.

“Lyk vir my soos ‘n wetsman. Dis net hulle wat so baie papiere saamdra” sê ander Piet.

Dit bring ons toe summier by die hof en aanverwante sake.

Ek vertel hulle van die keer toe ek so ‘n drieton lorrietjie by ‘n vriend leen om draad daar in die Sasolburg-omgewing te gaan oplaai. Oppad Parys toe breek die voertuig se uitlaatpyp af. Ek en my seun stop, laai die stuk pyp op en gaan verder. Ons was Parys omtrent uit toe my seun sê dat daar ‘n kar agter ons is die lig op sy dak maak so blou-blou-blou. Wetende dat die lorrietjie nie eintlik start nie, soek ek ‘n straat wat lekker afdraand uitdraai voor ek stop.

Die verkeersman deel my toe mee dat my voertuig ‘n onaanvaarbare geraas maak.

Ek verduidelik dat die ekzoos in transito afgebreek het en wys hom die bewysstuk agterop die bak. Hy is lekker hardegat en skryf die boete uit, met die woorde “onaanvaarbare geraas” as klagte.

Ek vertel hom dat hy asseblief die hofdatum moet oophou want ek wil hom graag in die hof sien.

So breek die hofdatum aan op ‘n koue wintersoggend by die hofsaal in Parys. Ek en nog ‘n paar beskuldiges staan so in die flou wintersonnetjie en wag ons lot af.

Die jong staatsaanklaertjie kom later uit en verneem hoe ons gaan pleit: skuldig of onskuldig. Ek vertel hom toe dat ek skuldig pleit maar graag die hof wil toespreek en dat hy moet sorg dat die verkeersman teenwoordig is. Hy verdwyn en kom tien minute later terug, roep my eenkant toe en vra hoekom die verkeersman daar moet wees.

Ek vertel hom dat die term “onaanvaarbare geraas” nie behoorlik omskryf is nie, dat die verkeersman nie ‘n desibelmeter by hom gehad het nie en ek dus van hom sal verwag om die “onaanvaarbare geraas”  in die hof na te maak sodat die landdros kan oordeel oor die onaanvaarbaarheid al dan nie.

“Jy is seker nie ernstig nie” sê hy. “Meneer, ek was nog nooit so ernstig nie.” antwoord ek. Hy verdwyn, kom na tien minute terug en sê dat die saak teruggetrek is en ek kan gaan.

Hennie sê dat ek seker verlig was maar ek sê dat ek teleurgesteld was want ek wou graag hoor hoe die man brul soos ‘n lorrietjie met ‘n af ekzoos.

Ander Piet vertel van die keer toe hy in ‘n lokval betrap is met blink klippies en moes hof toe gaan. Kennisse het hom meegedeel dat die boete so by die ses duisend rand sal wees en hy stap die hof binne met die geld in sy sak. Terwyl hy sy beurt afwag, val dit hom by dat die jaarlikse veiling van gebruikte Weermag voertuie op dieselfde dag plaasvind. Hy word skuldig bevind en beboet tot ses duisend rand. Hy pleit armoede, vra of hy mag afbetaal en die landdros sê dis reg so. Hy ry direk veiling toe, koop drie Toyota bakkies, maak hulle reg en verkoop hulle met ‘n uitstekende wins.

“Dit alles met die staat se geld” seg hy.

“Eendag is eendag” sê ek vir hom, “gaan jy jou nog vasloop teen die wet, teen ‘n man met so ‘n tas wat soos ‘n matriekboeksak lyk”

Met goeie wense en ‘n afspraak om ons nie deur die koue te laat afskrik nie, groet ons tot die volgende aand.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button