Gimmies se Wian is Noordwes se top matrikulant
Met 'n persentasie van 94 persent en sewe onderskeidings is Wian Landman van Potchefstroom Gimnasium as die beste matrikulant in Noordwes aangewys.
Met ‘n persentasie van 94 persent is Wian Landman van Potchefstroom Gimnasium as die beste matrikulant in Noordwes aangewys.
Hy het hierdie eer ontvang op Vrydag, 19 Januarie, tydens die Noordwes Departement van Onderwys se spesiale gala-funksie vir die top matrieks van 2023.
Wian het 7 onderskeidings behaal en al sy vakke met lof geslaag – interessant genoeg het sy broer Martin dit ook in 2020 behaal.
Wian is ook ‘n kranige hokkiespeler in sy posisie as doelwagter vir die eerste span by Gimmies gewees.
Algeheel het Noordwes ‘n slaagsyfer van 81,63 persent behaal.
Potchefstroom se top presterende skole met ‘n 100 persent slaagsyfer is Hoërskool Ferdinand Postma en Potchefstroom Girls High.
Girls High kan trots wees dat hulle die meeste onderskeidings persentasiegewys behaal het, ten opsigte van die hoeveelheid vakke wat geneem kan word. Hulle behaal 180 onderskeidings (27,95%). Sewe van hul leerders behaal ook 7 onderskeidings.
Ferdies is hier tweede in die provinsie met 97 onderskeidings, teenoor Gimmies wat 302 onderskeidings het (22,84%).
Ferdies behaal ook vir die 24ste jaar in ‘n ry ‘n 100% slaagsyfer en is ook tweede in die provinsie rakende die persentasie graadvrystellings.
Gimmies behaal die meeste vakonderskeidings in totaal (302), ‘n 99.5% slaagsyfer en universiteitsvrystelling van 90.4%.
Gimmies se Rika Goede behaal ‘n ongelooflike 10 onderskeidings met nege Gimmie-leerders wat 7 onderskeidings behaal.
Volkies se slaagsyfer is 98,28%. Twee leerders, Jané Fourie en Hanré Delport behaal 7 onderskeidings.






