Drie in ‘Kill the Boer’ saga identifiseer
Drie studente wat na bewering die omstrede lied op die NWU se Potchefstroom-kampus gesing het, is glo geïdentifiseer. Die universiteit se ondersoek is steeds aan die gang.
Drie studente wat glo die gewraakte, Kill the Boer-lied op 5 Junie op die NWU se Potchefstroom kampus gesing het is identifiseer.
Volgens Louis Jacobs, Direkteur van korporatiewe kommunikasie van die NWU duur die ondersoek voort. Die studente se identiteite is sover nog nie bekend nie.
Afriforum Jeug het ‘n dringende beroep op prof. Bismark Tyobeka, visekanselier van die NWU, gedoen om die die sing van dié dreunsang op alle NWU kampusse te veroordeel en verbied.
Volgens Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling van AfriForum Jeug, beteken die hof se wettiging van die “Kill the Boer”-dreunsang en die beslissing dat dit nie haatspraak is nie, geensins dat die universiteit mag wegskram van verantwoordelike en morele optrede teen die sing daarvan nie. “Net soos die dra van ’n vuurwapen wettig is in Suid-Afrika, maar nie op kampus toegelaat word nie, kan die universiteit ook in dié verband duidelike grense stel en sê dat hierdie lied nie op kampus toegelaat of geduld sal word nie,” verduidelik Gerber.
Die EFF se jeugvleuel in Potchefstroom het in ‘n verklaring gesê dat die lied nie ‘n oproep tot geweld teen enige iemand is nie.
“Dit is ‘n lied gegrond op die stryd teen kolonialisme en wit heerskappy. Die howe het ons reg om dit te sing bevestig. Ons sal dit luid en sonder verskoning aanhou sing,” het die EFF in ‘n verklaring gesê.



