AfriForum pak slaggate saam gemeenskap aan
AfriForum Potchefstroom het saam met die gemeenskap, ondernemings en studente meer as ’n ton teer gebruik om slaggate rondom Snowflake en die Potchefstroom Central School suksesvol te herstel.
Op 17 Julie het die AfriForum-tak in Potchefstroom, saam met lede van die gemeenskap, plaaslike ondernemings en raadslede, die slaggate rondom Snowflake en Potchefstroom Central School herstel.
’n Totaal van 625 kg teer is deur AfriForum se kontrakteur gebruik om twee groot slaggate van altesaam 6.34m² toe te maak. Daarby het die gemeenskap self 600 kg teer ingesamel en kleiner slaggate in die omgewing aangepak.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek, sal hierdie herstelwerk ’n beduidende verskil aan die verkeersvloei rondom Snowflake en die skool maak.
“Die inwoners van Potchefstroom is moeg gesukkel met slaggate. Dit is wonderlik om te sien hoe almal saamstaan en self iets daaraan doen. Ons is trots daarop om saam met die gemeenskap die probleem aan te pak,” sê Pretorius.
Tydens Julie het die tak ook vier studente betrek as deel van AfriForum Jeug se mentorskapprogram. Die studente het onder meer gehelp met tuinwerk by ’n erfenisterrein, ’n insiggewende praatjie bygewoon, en saam met die AfriForum-buurtwag op patrollie gegaan.
“Ons wou aan die jeug wys dat dit vir ons almal belangrik is om self verantwoordelikheid te neem. Wanneer ons saamwerk, kan ons werklik ’n verskil maak,” voeg Pretorius by.



