Local newsNewsNews

Sekuriteitsbeampte perongeluk by fees geskiet

Alle partye het bevestig die insident was net 'n ongeluk.

‘n Sekuriteitsbeampte het oor die naweek per ongeluk ‘n ander sekuriteitsbeampte by die Geesfees raakgeskiet toe hy glo sy vuurwapen wou beveilig.

Volgens CB Security ontvang, was een van hulle beamptes, wat Saterdag by die Geesfees gewerk het, op pad om van diens af te gaan toe hy en ‘n ander beampte van Cross Border Protection, ‘n gesprek gehad het. CB Security se beampte het in die maatskappy voertuig gesit en die ander beampte het buite die voertuig gestaan toe hy glo sy 9mm-maatskappy-vuurwapen begin veilig maak het.

Tydens hierdie aksie, is die vuurwapen per ongeluk afgevuur en CB Security se beampte in die bo-been getref. Die beampte is na Medi Clinic vir behandeling geneem.

Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het aan die Herald bevestig ‘n saak van die afvuur van ‘n vuurwapen word tans ondersoek nadat ‘n sekuriteitswag op Saterdagaand, 30 Augustus, by Lekwena Lodge, besig was om sy vuurwapen veilig te maak. “Die vuurwapen is afgevuur en ‘n ander 31-jarige  sekuriteitsbeampte, is in sy been geskiet,” het Myburgh gesê.

CB Security het aan Herald verduidelik dat CB Security en Cross Border Protection nie dieselfde maatskappy is nie en dat die insident net ‘n ongeluk was.

Eldrick Jordaan, een van die direkteure van Cross Border Protection, sê die maatskappy het alle stappe van hulle kant af geneem om te verseker die regte prosedure word gevolg.

“Ons het die saak by die polisie aangemeld en ons beampte se vuurwapen ingeneem. Hy gee ook sy volle samewerking in die verband.”

Jordaan vertel ook die twee mans was kollegas by ‘n vorige maakskappy en het mekaar geken en was vriende.

“Ek was self by die Geesfees as ‘n gas en die hele fees was ‘n reuse sukses. Alles het glad verloop en almal het hulself baie geniet. Dit is hartseer dat ‘n ongeluk die fees op so ‘n nooit laat eindig het. Ek wil nie hê dit moet ‘n demper op die fees sit nie want die fees is vir ‘n goeie doel en beteken baie vir ons gemeenskap.”

Elbé Visagie, die organiseerder van die Geesfees, sê die insident word tans deur die polisie en die twee maatskappye hanteer.

“Dit is die eerste en enigste insident wat ons nog ooit by die Geesfees gehad het en dit was regtig net ‘n ongeluk. Ons wil nie hê die ongeluk moet die moeite, gees en die goeie werk wat ons terugploeg in die gemeenskap in, oorskadu nie.”

Die Geesfees wat vanaf Vrydag, 29 Augustus tot Saterdag, 30 Augustus plaasgevind het, was ‘n reuse sukses. Tussen 3500 en 4000 feesgangers het die geleentheid bygewoon.

“Die Geesfees se doelstelling is om in samewerking met sakelui van die dorp, die winste van die fees terug te ploeg in ons gemeenskap in. Ons wil ‘n volhoubare projek aanpak wat skoonmaak en regmaak sodat ons ons dorp een kan maak en hou om op trots te wees,” sluit Visagie af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button