Veediewe vasgetrek ná R100 000 diefstal
Spanwerk tussen polisie, sekuriteit en inwoners het 'n groot verlies vir 'n plaaslike boer verhoed.
‘n Isuzu-bakkie met ‘n sleepwa, wat glo gesteelde beeste vervoer het, is op 12 September afgetrek nadat Bellrex Innovations (CCTV) omstreeks 06:14 inligting deurgegee het van moontlike gesteelde vee.
Leandro de Beer, van Potchefstroom First Responders, sê danksy vinnige samewerking tussen die polisie, Mooirivier Beskerming en Bellrex Innovations, is die voertuig voorgekeer.
“Op die sleepwa was vier beeste, met vars brandmerke wat oor die oues geplaas is. Verdere ondersoek het daartoe gelei dat die regmatige eienaar opgespoor is, wat bevestig het dat die beeste syne was,” het De Beer verduidelik.
Die diere, met ‘n geraamde waarde van R100 000, is glo gedurende die nag gesteel.
Beide die bestuurder en passasier is in hegtenis geneem. Die beeste en voertuig is deur die SAPD beveilig.
Volgens Brigadier Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sal die verdagtes op 25 September in die hof verskyn op aanklagtes van vee diefstal verskyn.




