Gesin ontsnap vlamme deur venster
'n Gesin het als verloor toe hulle huis Vrydagaand heeltemal afgebrand het.
Elias Hlaoli, sy vrou en die paartjie se twee kinders het 3 Oktober ‘n noue ontkoming gehad nadat hulle by ‘n ruit uit na veiligheid moes vlug toe die gesin se huis afgebrand het.
Die gesin was Vrydagaand in hulle huis in Ikageng aan die slaap, toe Elias omstreeks 22:45 rook ruik. Hy het opgespring en die vlamme by die kombuis en eetkamer sien uitkom. Elias en sy gesin kon daarin slaag om by ‘n kamervenster uit te klim voordat die huis teen 22:58 heeltemal uitgebrand het. Die gesin het alles verloor.
Elias vertel sy huis is glo aspris aan die brand gesteek.
“Die manier hoe die vuur gebrand het en die patrone wat dit veroorsaak het, kan ‘n mens sien ‘n versneller soos petrol of paraffien is onder die deur ingegooi en aan die brand gesteek.”
Hy vertel ook dat mense wat glo kom help het om die brand te ‘blus’, het eerder sy besitting weggedra.
Cathy Schoonwinel, opsigter van La Rose Ridge en Elias se kollega vir die afgelope 6 jaar, probeer nou haar bes om vir die gesin goed in te samel om weer ‘n nuwe lewe te kan bou.
Cathy vertel hulle benodig sinkplate en pale sodat hulle vir die gesin ‘n tydelike woning kan opsit. Hulle benodig ook klere vir Elias, sy vrou, seun (11) en dogter (18).
“Mense kan donasies van enige soort gee. Messe, vurke, meubels, beddegoed, kos ens. Hulle moet letterlik nou alles weer van voor af bymekaar maak.
Indien jy ‘n donasie vir Elias maak, kan jy vir Cathy by 076 392 5366 kontak op kan dit by La Rose Ridge in Oudeburgstraat aflaai.



